En die wenners van die SAG-toekennings is …

Danai Gurira, Isaach de Bankole, Chadwick Boseman, Lupita Nyong’o en Angela Bassett van “Black Panther” (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Die 25ste jaarlikse Screen Actors Guild Awards (SAG Awards) het Sondag Hollywood se beste akteurs byeengebring om die gesogte bronsbeeldjies vir dié toekennings aan die wenners uit te deel.

Terwyl dit Bohemian Rhapsody was wat die meeste aandag getrek het by die Golden Globes vroeër dié maand, het die lig behoorlik op Black Panther geskyn tydens dié glansgeleentheid.

Black Panther is benoem vir die beste rolverdeling in ʼn rolprent, asook vir die beste toertjie-ensemble in ʼn rolprent. Hulle het met albei dié titels geseëvier.

Black Panther is ʼn superheld-film wat aandag getrek het omdat die meeste lede van die span swart mense is. Die span van dié rolprent is ook al vir meer as 20 ander gesogte toekennings in Hollywood benoem.

In Chadwick Boseman se aanvaardingstoespraak namens die rolverdeling van Black Panther, het hy gesê hulle is, as swart mense, geëerd om baanbrekers in die bedryf te wees.

“Ons almal weet hoe dit voel om jonk, begaaf en swart te wees, maar om vertel te word dat daar nie ʼn plek, skerm of verhoog vir jou is om op te verskyn nie. Ons weet hoe dit is om die stert en nie die kop te wees nie, om onder en nie bo te wees nie.

“En dit is waarmee ons werk toe gegaan het elke dag, so ons het geweet ons het iets spesiaals met dié film. Ons het geweet ons het iets gehad om te gee, en om nou deur julle raakgesien te word, is ʼn eer,” het hy gesê.

Rami Malek (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Bohemian Rhapsody het ook twee benoemings ontvang, maar slegs met een SAG-toekenning weggeloop vir die beste akteur in ʼn hoofrol. Dié toekenning was vir Rami Malek se rol as Freddie Mercury in Bohemian Rhapsody.

Glenn Close het die SAG-toekenning gekry vir die beste aktrise in ʼn hoofrol vir haar optrede as Joan Castleman in The Wife.

Hier is die volledige lys wenners:

  • Beste rolverdeling in ʼn rolprent: Black Panther
  • Beste aktrise in ʼn hoofrol: Glenn Close (The Wife)
  • Beste akteur in ʼn hoofrol: Rami Malek (Bohemian Rhapsody)
  • Beste byspeler (vrou): Emily Blunt (A Quite Place)
  • Beste byspeler (man): Mahershala Ali (Green Book)
  • Beste ensemble in ʼn dramareeks: This is us
  • Beste aktrise in ʼn dramareeks: Sandra Oh (Killing Eve)
  • Beste akteur in ʼn dramareeks: Jason Bateman (Ozark)
  • Beste ensemble in ʼn komediereeks: The Marvelous Mrs. Maisel
  • Beste aktrise in ʼn komediereeks: Rachel Brosnahan (The Marvelous Mrs. Maisel)
  • Beste akteur in ʼn komediereeks: Tony Shalhoub (The Marvelous Mrs. Maisel)
  • Beste aktrise in ʼn televisiereeks of beperkte reeks: Patricia Arquette (Escape at Dannemora)
  • Beste akteur in ʼn televisiereeks of beperkte reeks: Darren Criss (The Assassination of Gianni Versace: American Crime Story)
  • Beste toertjie-ensemble in ʼn rolprent: Black Panther
  • Beste toertjie-ensemble in ʼn televisiereeks: Glow

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elvira ·

Lyk vir my hierdie “jammer Jannie” is wereldwyd. Gaan nooit verander nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.