Familie dra by tot Schumacher-dokkie

Corinna en Michael Schumacher. Foto: Eric Gaillard/AFP.

Op die kruin van die golf was Michael Schumacher onstuitbaar. Hy het ’n rits F1-wêreldtitels verower en is een van die gewildste supersterre in die sport se geskiedenis.

Maar in 2013 het die Ferrari-ster ernstige kopbeserings opgedoen ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe. Daar is bitter min inligting oor sy toestand bekend, maar familievriende soos Jean Todt (voormalige Ferrari-spanhoof) besoek hom gereeld.

“Hy het ’n ongelooflike vrou aan sy sy, hy het sy kinders en verpleërs; ons kan hom en sy gesin net sterkte toewens,” het Todt al in vorige onderhoude gesê.

Erich Riederer, ’n wêreldbekende neurochirurg, het op sy beurt ’n somberder prentjie geskilder. “Ek dink hy is in ’n vegetatiewe toestand wat beteken dat hy wakker is, maar nie reageer nie,” het Riederer aan ’n Franse TV-stasie gesê.

Volgens die chirurg kan Schumacher waarskynlik regop sit en met moeite enkele treë stap, maar dit is waarskynlik die toppunt van sy vermoë.

“Is daar enige kans dat die wêreld hom weer sal sien soos wat hy vóór sy ongeluk was? Ek dink werklikwaar nie so nie.”

Nou het die Schumacher-familie egter bevestig dat hulle nuwe beeldmateriaal van die F1-ster vir ’n dokumentêre prent oor sy lewe sal beskikbaar stel.

Michael Schumacher (19 Oktober 2006) (Foto: AP Photo/Daniel Maurer, File)

Schumacher word deur die Duitse rolprentmakers Michael Wech en Hanns-Bruno Kammertöns vervaardig. Volgens berigte sal sy pa, vrou en kinders ook in die prent ʼn verskyning maak.

“Die prent beeld Michael se indrukwekkende F1-loopbaan uit, maar ook van die fasette wat van hom ’n interessante en komplekse individu maak,” het Sabine Kehm, familie-woordvoerder, gesê.

Schumacher se vrou, Corinna, het gesê dat die geheimhouding rondom haar man se gesondheid op sy eie aandrang is. Die familie het egter hulle volle steun aan die produksiespan gegee.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het nietemin ’n invloed op die uitreiking van die rolprent en geen amptelike datum is nog bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anti-Verkramp

Sy vrou se dat die geheimhouding op sy eie aandring is. As dit die geval is, moet hy mos weet wat om hom aangaan en hoe sou hy dan hierdie wens in elk geval gekommunikeer het?

koos10

En seker ‘n geldjie ook kry? Sy mediese kostes is enorm.

Alta Alleman

Hoe loop iemand in ‘n vegetatiewe toestand? Is dit ooit moontlik?
Ek het elke wedren gekyk waarin hy gejaag het. Beter kan mens nie kry nie !