‘Flatland’ ʼn ‘reis van selfontdekking vir drie vroue’

Nicole Fortuin en Izel Bezuidenhout in ‘Flatland’. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse rolprent Flatland is een van die eerste plaaslike rolprente wat fliekgangers na die teaters gaan teruglok nadat alle fliekteaters al maande lank weens die Covid-19-pandemie gesluit is.

Flatland is ʼn eietydse drama geregisseer deur Jenna Bass en het vroeg in 2019 die Berlynse Filmfees se Panorama-afdeling geopen.

Die fliek is ’n reis van selfontdekking vir drie uiteenlopende vroue, al drie ewe vasgevang in hul situasies. Izel Bezuidenhout is te sien as ʼn swanger tiener terwyl Nicole Fortuin die rol vertolk van ’n jong bruid en Faith Baloyi is te sien as Beauty Cuba, ’n polisiebeampte.

Die lewe van die eensame, middeljarige polisievrou, Beauty, verander handomkeer wanneer sy ’n oproep om hulp ontvang van Billy, haar gewese minnaar, wat onlangs uit die tronk vrygelaat is maar weer in hegtenis geneem is vir die moord op ’n pastoor. Beauty keer terug na haar stowwerige tuisdorp en besef gou dat hierdie saak nie so eenvoudig is as wat sy gedink het nie.

Flatland het sy Noord-Amerikaanse première by die Contemporary World Cinema-seleksie van die 2019 Toronto Internasionale Rolprentfees (TIFF) gehad. Dit was sedertdien deel van die amptelike seleksie van 21 internasionale rolprentfeeste. Flatland het ook die toekenning as Beste Afrika-rolprent by die Joburg-rolprentfees gewen.

Die rolprent speel af teen die agtergrond van die Karoo en begin in Beaufort-Wes met sy bykans onnatuurlike helder en verbluffende blou hemelruim en sy onuitwisbare landskappe.

“Ek wou al lankal ’n Wilde Weste-rolprent wat in die Karoo afspeel maak. Ek is mal oor die drama en aksie van en omgewing waarin die tradisionele Wilde Weste-rolprente afspeel,” het Bass gesê.

“Die ongeskrewe reël van Wilde Weste-rolprente is egter dat hulle vir mans is en deur mans gemaak word. Flatland is die teenoorgestelde – dit is ’n feministiese post-Wilde Weste-fliek.”

Volgens Bass is die vroulike hoofkarakters elkeen ongekunsteld en lewenseg op hul eie manier. “Toe ons die rolprent geskiet het, het ons die aktrises aangemoedig om die karakters hul eie te maak. Die storie delf diep in hoe mense in gemeenskappe wat op die kantlyn bestaan, ʼn lewe maak, waar daar ʼn gevoel is dat die land na wetteloosheid terugkeer.

“Dit was ook nog ʼn rede waarom Beaufort-Wes die ideale plek was om die rolprent te skiet. Dié dorp het ʼn karakter in eie reg geword. Die fliek ondersoek ingewikkelde vrae en onregverdighede, maar bied nie volstrekte gevolgtrekkings of gelukkige eindes nie.”

Die Amerikaanse tydskrif Variety het dit “’n opwindende vermenging van eietydse Wilde Weste-, polisie- en meisies-wat-mal-raak-rolprent genoem en na Baloyi se “manjifieke Beauty Cuba” verwys.

Faith Baloyi in ‘Flatland’. (Foto: Verskaf)

Die Hollywoord Reporter het dit “’n pikareske road movie wat ryk is aan emosie en ’n vroue-gedrewe karakterstudie” genoem.

Flatland verken sosiale verskille deur ’n mengelmoes van genres in te span: die Wilde Weste, polisie-prosedures en egte kitsch. Beauty, ’n hardekwas speurder wat ’n voorliefde vir veloer-sweetpakke en spoggerige sonbrille het, is ook verslaaf aan haar gunstelingsepie Generations en met elke greep in die rolprent word ’n onderonsie oor ontrouheid met ’n minnaar gewys.

Flatland is deur die internasionale kinematograaf Sarah Cunningham geskiet en neem die gehoor na Suid-Afrika se droë binneland met sy stowwerige grondpaaie, verafgeleë berge en eindelose hemelruim.

Flatland is vervaardig deur Suid-Afrika se Proper Film, in samewerking met Luxemburg se Deal Productions en Duitsland se In Good Company. Die Duitse maatskappye, unafilm en ZDF/Das Kleine Fernsehspiel was medevervaardigers in samewerking met Arte.

Dit is ook in samewerking met die Nasionale Film- en Videostigting van Suid-Afrika, asook die Hubert Bals-fonds, die Berlinale World Cinema-fonds en EAVE vervaardig. Dit word deur Indigenous Film Distribution in Suid-Afrika uitgereik.

Dit is die derde rolprent wat skrywer-regisseur Bass aanpak. Sy was ook die medeskrywer van die grensverskuiwende Keniaanse prent Rafiki.

Flatland begin op Vrydag 30 Oktober in fliekteaters landswyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.