Flieketiket: Leon van Nierop oor springmielies, selfone en stilte

Leon van Nierop. (Foto: Burger Meyer/Maroela Media)

Leon van Nierop. (Foto: Burger Meyer/Maroela Media)

Die meeste van ons word van kleins af geleer hoe om goeie etiket aan die dag te lê, soos om asseblief en dankie te sê, jou hand voor jou mond te sit as jy hoes en nie met ʼn mond vol kos te praat nie.

Wat weet ons egter oor flieketiket? Wanneer is dit die regte tyd om jou lekkergoedpapiertjies oop te maak? En mag jy maar met jou voete op die sitplek voor jou rus as daar niemand anders daar sit nie?

Leon van Nierop, bekende fliekresensent, skrywer en vervaardiger, bieg teenoor Maroela Media dat hy baie sterk voel oor goeie flieketiket en dat fliekgangers nie altyd so bedagsaam is teenoor mekaar soos hy dit sou verkies nie.

“Ek eet nooit springmielies in ʼn fliek nie,” erken hy prontuit, “maar ek besef natuurlik dat dit vir baie mense deel is van die fliekervaring. Dit is tog belangrik dat jy nie die mense om jou se fliekgenot moet versteur deur in jou springmielies te grawe nie. Maak maar jou lekkergoed ook voor die tyd of tydens die voorprente oop.”

Volgens Van Nierop het A Quiet Place, die riller met John Krasinski en Emily Blunt in die hoofrolle, onlangs mense se springmielie-etery in die fliekteater in die wiele gery, aangesien daar bitter min klank in die fliek is. “As iemand iets gekou het, het die ander mense met hulle geraas, want hulle kon dan nie die fliek volg nie.”

Hy vertel van ʼn snaakse springmieliestaaltjie in Italië. “Ek was op ʼn keer in Italië in ʼn fliekteater en ʼn man wat agter my gesit het, het so hard gekou dat die vrou langs my omgedraai het en kwaai vir hom gebulder het: “Silenzio!” Dit het my opnuut laat besef ʼn mens moenie langs iemand anders in ʼn teater raas nie.”

Volgens Van Nierop geld dieselfde vir mense wat met mekaar gesels tydens die fliek. “Gegewe die feit dat daar baie mense is wat nie mooi kan hoor nie, sien jy nogal gereeld dat mense onderlangs vir mekaar fluister in ʼn poging om met die storielyn by te hou, en daarvoor kan ʼn mens nog begrip hê.”

Wat hom egter grief, is fliekgangers wat blatant kliphard sit en gesprekke voer. “Dit is onbeskof en doodeenvoudig disrespekvol teenoor die filmmaker. Ek wonder soms hoe daardie mense sou voel as ek byvoorbeeld in die middel van hul huweliksseremonie kliphard gesit en gesels het? Daarom is ek partykeer dankbaar vir flieks soos Avengers: Infinity War wat só raas dat ʼn mens nie met mekaar kán gesels nie en dit ook nie sou hoor indien mense met mekaar praat nie.”

As kletsende fliekgangers jou pla, is sy raad eenvoudig om ʼn ander sitplek te gaan soek. “Mense raak verskriklik beledigend of aggressief as ʼn mens vir hulle vra om stil te bly, daarom gaan sit ek op ʼn ander plek indien dit moontlik is. Ek het al gesien hoe vuisgevegte uitbreek as gevolg van mense wat nie wil ophou gesels in ʼn fliekteater nie. Ek voel egter jy kan jou gesprekke buite voer, of jy kan doodluiters net wegbly van die teater af indien jy nie van plan is om regtig na die fliek te kyk nie.”

Van Nierop glo ook dit is onvergeeflik indien iemand ʼn telefoonoproep binne ʼn fliekteater beantwoord. “Tensy jy ʼn mediese dokter is en mense se lewens is van jou afhanklik, is daar geen rede waarom jy nie jou selfoon kan afsit of buite die teater die oproep kan beantwoord nie. Mense, veral tieners, is lief daarvoor om dwarsdeur die fliek te SMS en al die fliekgangers om hulle met hul selfoonligte te verblind.”

Volgens Van Nierop is dit ook wenslik om deur ʼn redelike aantal van die krediete op die einde te sit, aangesien hy as vervaardiger weet hoeveel werk ʼn rolprent verg. “Deur na die krediete te kyk, toon jy respek teenoor die mense wat aan die fliek gewerk het. Veral op Hollywood-fliekstelle is daar meer as 700 of 800 mense wat aan die fliek gewerk het, of soos in Black Panther se geval sowat 1 000. Dus sit ek nie altyd deur al die krediete nie, maar ek wag ten minste tot die titels van die musiek wat in die fliek gebruik is, vertoon word. Dit is ook opvoedkundig om te sien hoeveel mense op ʼn fliek vir verskillende take verantwoordelik is.”

Fliekgangers moet ook sover as moontlik probeer om nie die teater te verlaat in die middel van die fliek nie. “Kry jou springmielies en al jou sout voor die tyd en kry klaar. Natuurlik is daar mense met blaasprobleme wat nie deur ʼn hele fliek kan sit sonder om badkamer toe te gaan nie, maar daar is ook mense wat nog voor die fliek begin het, meer as ʼn liter koeldrank opslurp en dan gedurig moet opstaan tydens die fliek. Ek drink nooit iets voor ʼn fliek nie, want ek beheer myself.”

Om jou voete op die sitplek voor jou te rus, of daar nou iemand daar sit of nie, is doodeenvoudig onbeskof, sê Van Nierop. “Sou jy dit by jou pa en ma se huis ook doen?”

“En vry asseblief buite!” lag Van Nierop. “Jy stel jouself en almal om jou in die verleentheid. As jy eerder wil vry as fliek, moet jy dalk eerder ʼn kamer kry as om na ʼn fliekteater toe te gaan.”

Vir Van Nierop is daar nie eens ʼn kwessie oor die verfilming van ʼn fliek binne die teater met jou selfoon nie. “Dit is ontoelaatbaar, teen die wet en jy kan in hegtenis geneem word. Jy mag dit nie doen nie.”

Sy laaste en belangrikste raad vir goeie flieketiket is ook maklik: Moenie laat kom vir ʼn fliek nie. “Dit tel vir alle teaters. Nou moet mense wat betyds was opstaan of vir jou plek maak in ʼn donker teater sodat jy verby kan kom. Sou jy laat kom vir jou eie troue? Meestal het die fliek ook voorprente van ongeveer 15 minute, so as jy laat is vir die fliek, beteken dit jy is eintlik al amper 20 minute laat.

“Dis nie aanvaarbaar nie. As jy sien jy gaan laat wees vir die fliek, wag vir die volgende vertoning of kies iets anders om na te kyk. Om laat te wees, is onbeskof, onverantwoordelik en die fliek gaan moontlik nie vir jou sin maak as jy die begin mis nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Riana ·

Een van die kere wat ek gefliek het, het ‘n tiener omtrent die hele tyd haar selfoon aangehad, die liggie was so irriterend ek kon glad nie die fliek geniet nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.