Fliekfees verwelkom nou ook televisiemakers se konsepte

(Foto: Unsplash)

ʼn Volgepakte feesprogram wag op fliekentoesiaste wat van 23 tot 26 Augustus die 11de kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gaan bywoon.

Rolprente wat by vanjaar se fees debuteer, sluit ʼn rits nuwe vollengterolprente, 14 diverse kortflieks en 6 kort dokumentêre rolprente, ʼn nuutjie vir dié fees, in.

Nog opwindende nuus, dié keer vir televisiemakers, is dat videovervaardigers ook vanjaar die geleentheid kry om konsepte vir die fees se nuwe Pitch vir ons-kompetisie in te skryf.

Maroela Media het vroeër berig dat die voornemende rolprentmakers nou konsepte vir kortflieks en kort dokkies vir 2024 se Silwerskermfees-kompetisie kan inskryf. Die sluitingsdatum hiervoor is Maandag 8 Mei.

Met beide dié kategorieë, kortflieks en kort dokkies, is die fees op soek na verbeeldingryke storievertellers wat die potensiaal het om die pas in ʼn snelgroeiende rolprent- en televisiebedryf aan te gee.

Anders as vorige inisiatiewe deur die kykNET Silwerskermfees wat net op rolprente gefokus het, sal ʼn handvol deelnemers ná ʼn intensiewe keuringsproses programkonsepte vir televisie- en stroomplatforms in persoon aan M-Net se opdraggewende inhoudsvervaardigers en ander besluitmakers voorlê.

Die Pitch vir ons-kompetisie sluit verskeie kategorieë in: dramareekse, dokumentêre, werklikheids- en vermaaklikheidsprogramme en adverteerder-geborgde programme.

Besoek die Silwerskermfees se webwerf om meer te wete te kom oor die bepalings en voorwaardes, keuringsprosesse, en inligting wat benodig word om in te skryf. Die sluitingsdatum vir die Pitch vir ons-inskywings is Woensdag 7 Junie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.