Fliekresensie: Dié Tom Cruise-waaghalsfliek ‘buitengewoon vermaaklik’

MISSION: IMPOSSIBLE – DEAD RECKONING PART ONE 
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(9/10)
Met Tom Cruise en Haley Atwell
Regisseur: Christopher McQuarrie
(In teaters)

Dié fliek se naam moes eintlik net “TOM!” gewees het, want g’n siel verwys na die volle titel nie. Dis bloot te lank en ingewikkeld.

In die buiteland is daar geskryf oor gehore wat “vervolg-uitgeput” raak, en dat die lang titel teen die ekstroverte en asemrowende aksiefliek tel. Daarom het dit nie heeltemal so goed by die loket presteer as wat verwag is nie.

Dit neem egter niks van die feit af weg dat die sewende Mission: Impossible buitengewoon vermaaklik is nie. Sowat van waaghalstoertjies, wat Tom Cruise natuurlik, veral na die geweldige reklame, self uitgevoer het, het jy nog nooit gesien nie.

Die feit dat ʼn mens bewus is daarvan dat Cruise self van ʼn krans afgery het, en self hardloop, dien as ʼn verdere adrenalien-inspuiting. Dis supersonies vermaaklik en het die krag van 20 testosteroon-behandelings.

Tom Cruise in ‘Mission: Impossible – Dead Reckoning Part One’. (Foto: IMDb)

Dit gaan oor die waaghalsige spioen Ethan Hunt wat dié slag teen kunsmatige intelligensie, ook bekend as AI of KI, moet baklei. Hoe veg jy teen iets wat onsigbaar is?

Die fliek funksioneer as ʼn aksie-ekstravaganza waar die gehoor tussen dapper waaghalstoertjies asemskepkans kry, net om opnuut gekonfronteer te word deur die onmoontlike, waar die een mallemeule-rit erger en groter as die ander is.

Moeg vir ʼn eentonige lewe wat gekenmerk word deur beurtkrag en ʼn watertekort tussen die slaggate en gruwel-verkeer? Dan sal Mission: Impossible – Dead Reckoning Part One jou verby die sterre skiet.

(9/10)

  • Kykers moet let op die ouderdomsperke en waarskuwings, en daarvolgens besluit of hulle na ʼn reeks of rolprent wil kyk. Die waarskuwings word duidelik aangebring wanneer daar op die reeks se naam geklik word, of verskyn op rolprentplakkate, of bo regs op die TV-skerm. L kan ook laster suggereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.