Fliekresensie: Moord g’n ernstige saak in dié Adam, Jen-komedie

MURDER MYSTERY 2
⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10     
Met Adam Sandler en Jennifer Aniston
Regisseur: Jeremy Garelick
(Netflix)

Jy kan maar net in jou mou lag vir Murder Mystery 2. Liefhebbers van sogenaamde whodunnits of “wie het die moord gepleeg?”, sal van die begin af dadelik die skuldige identifiseer, want niemand is ernstig oor die sogenaamde moord nie. Agatha Christie draai in haar graf om!

Adam Sandler en Jennifer Aniston is die privaatspeurders wat die moord op ʼn bruidegom op ʼn eksotiese eiland moet oplos. Wie het die olifant gelei waarop hy gesit het? Wat het daar gebeur?

Dit is alles eintlik belaglik, want daar is elke 15 sekondes ʼn kwinkslag soos in Friends. So baie gevegte, soveel mense wat omkap, soveel luidrugtige grappe. Dis eintlik die vla oor jou brokkoli, bedoelende dat dit ʼn vermoeide lewe vol slaggate en beurtkrag vir 90 minute mag kielie. Mens lag omdat alles so oordrewe is en die vonk tussen Sandler en Aniston is heerlik! Sy is natuurlik ʼn bobaas-komediant.

Jennifer Aniston en Adam Sandler in ‘Murder Mystery 2’. (Foto: IMDb)

Gil, giggel, knak ʼn koue een oop en WhatsApp jou buddy-broers tussenin met: “Koel komedie, bru. Kyk bietjie voor die rugby!” Want dis daardie soort fliek. Liggewig, sag op die oog, springmielies vir die brein en ʼn hartlike lagbui hier en daar.

Gaan kyk as jy wil saampraat, want almal kyk tans na Murder Mystery 2 op Netflix, wat 6/10 kry vir sy skone baldadige vermetelheid.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jean ·

In baie min gevalle is ‘n tweede fliek beter as die eerste een.
En Adam Sandler se tipe humor moet jy van hou anders sal jy nooit van sy flieks hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.