Fliekresensie: Oue se flink stappie deur Parys soos ‘vla vir die brein’

MRS. HARRIS GOES TO PARIS 
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Lesley Manville en Lambert Wilson
Regisseur: Anthony Fabian
(Slegs in teaters)

Mrs. Harris Goes to Paris is ʼn absolute juweel van ʼn rolprent wat jou lewe sal laat skitter. Jy kan ouma teater toe vat, jy kan jou meisie of ou soontoe vat, jy kan self alleen gaan kyk, sonder om skaam te wees dat jy ʼn outoppie-fliek gaan kyk, want dié boodskap is universeel. Ons het almal drome, en jy moet deur die stormsee vaar om daardie drome te verwesenlik. Net dan sal jy deurdruk en dit waardeer, al is dit hoe onmoontlik.

Mrs. Harris Goes to Paris is manna vir die siel, dis vla vir die brein.

ʼn Bejaarde vrou (die fenomenale Lesley Manville van Phantom Thread, destyds teenoor Daniel Day Lewis) speel die rol van ʼn skoonmaker wat ʼn glinsterrok by Christian Dior in Parys wil gaan koop – sommer by hom persoonlik, en die revolusie wat sy daar teweeg gebring het.

Lesley Manville en Lambert Wilson in ‘Mrs. Harris Goes to Paris’. (Foto: IMDb)

Dit gaan oor menslikheid, dankbaarheid, koppigheid, onskuld, maar ook vreesloosheid. Om te doen wat jou hart vir jou sê, en niks in jou pad te laat staan nie. Die innerlike goedheid in haar hart is wat jy eintlik sal onthou. En al is die storie soms ʼn bietjie geforseerd, sal haar flink stappie jou altyd bybly.

Moenie dat Mrs. Harris Goes to Paris weer by jou verbygaan met daardie ou cliché van: “Ek het toe nooit daarby uitgekom nie.” Dit sal jou hart, jou lewe, jou fliekbestaan verryk.

Mrs. Harris Goes to Paris is slegs in fliekteaters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.