Fliekvlooi Floris se fliekresensie: ‘Die seemeeu’

Christiaan Olwagen en Saartjie Botha se rolprentverwerking van Die seemeeu, die verhoogstuk van die Russiese dramaturg Anton Tsjekof, word op 5 April in fliekteaters landwyd uitgereik. Dit word deur talle resensente as ʼn kragtoer beskryf.

Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Gerben Kemper, Alyzzander Fourie, Deon Lotz, Rolanda Marais, Martelize Kolver, Albert Pretorius, Geon Nel en Cintaine Schutte vorm deel van die ensemble-rolverdeling wat in dié rolprent te sien is.

Dié fliek, wat ook deur Olwagen geregisseer is, het eers vir twee jaar met dieselfde rolverdeling die feesrondes op die planke gedoen voordat dit in ʼn vollengtefliek omskep is. Olwagen neem die klassieke Tsjekof-teaterstuk, wat reeds in die 1900’s geskryf is en verplaas dit na Suid-Afrika in die 1990’s, bykans 100 jaar nadat die stuk geskryf is.

Elkeen van Tsjekof se volronde karakters wroeg met hul eie vrese, verlange, twyfel en frustrasie, wat natuurlik weens hul eie toedoen is. Die teaterdiva, Irene, vertolk deur Sandra Prinsloo, sukkel om gewoond te raak aan streeksrade wat nie meer bestaan nie en kunstefeeste wat haar loopbaan se voorland is.

Sy woon op ʼn landgoed saam met haar broer, Piet, vertolk deur Marius Weyers, en haar seun, Konstant, vertolk deur Albert Pretorius, wat hunker na sy ma se goedkeuring en aandag. Rolanda Marais is Nina, ʼn naïewe aspirerende aktrise wat wil wegkom van die klein dorpie waar sy woon, maar nie weet wat om te doen wanneer sy die geleentheid kry nie. Masha, vertolk deur Cintaine Schutte, is immer terneergedruk.

Martelize Kolver, in die rol van Masha se ma, Paulina, en Deon Lotz, wat haar pa, Elias, vertolk, is saam met Geon Nel as die armoedige onderwyser Simon, die opgewekte filosoof dr. Eugene, vertolk deur Gerben Kamper, en die bekende skrywer Boors, vertolk deur Alyzzander Fourie, deel van die rolverdeling.

*Die seemeeu het ʼn ouderdomsbeperking van 16 vir onder meer kru taalgebruik, tonele van dwelm- en alkoholgebruik, seksuele tonele en geweld. Die fliek is nie geskik vir kinders jonger as 16 jaar nie. Ouers se diskresie word aanbeveel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.