Fliekvlooi Floris se fliekresensie: ‘Griekwastad’

Griekwastad, die lankverwagte rolprent met Arnold Vosloo in die hoofrol as kolonel Dick de Waal, is van vandag (Dinsdag) op Box Office te sien.

Die fliek handel oor die opspraakwekkende Griekwastad-moorde in die Noord-Kaap wat in April 2012 Suid-Afrika en die wêreld tot stilstand geruk het.

Deon (44), Christel (43) en hul dogter, Marthella (14), Steenkamp is wreed op hul plaas, Naauwhoek, vermoor. Marthella is ook verkrag. Don Steenkamp, hul seun wat ten tyde van die moorde 15 jaar oud was, is in 2014 in die hof aan dié gruweldade skuldig bevind.

Dié skokverhaal is vir die silwerdoek verewig deur SCENE23 en die ontwikkeling van die rolprent was een van dié produksiehuise se eerste projekte. Deon Meyer, Tim Theron, Cobus van den Berg en Tracey Lange is die vervaardigers aan die stuur van dié produksiehuis en die Griekwastad-moorde-projek.

Dit is Vosloo, wat in internasionale flieks soos The Mummy, The Mummy Returns en Blood Diamond teenoor Leonardo DiCaprio gespeel het, se eerste Afrikaanse rolprent in meer as 30 jaar.

Tertius Kapp en Jozua Malherbe, albei Safta-wenners, is onderskeidelik verantwoordelik vir die teks en regie.

Die idee vir die fliek was aanvanklik dié van Meyer, bekende Suid-Afrikaanse skrywer van boeke soos Orion en Jagveld, wat ook vir die kassie en silwerdoek verwerk is. Hy het die regte van die boek, Die Griekwastad-moorde – Die misdaad wat Suid-Afrika geruk het deur Jacques Steenkamp, bekom.

“As misdaadskrywer was ek uiteraard – soos die res van Suid-Afrika – heeltemal geboei deur die Griekwastad-moorde, en het van meet af aan geglo dit kan ʼn meesleurende fliek maak. Jacques Steenkamp se briljante boek het my uiteindelik oortuig om hom oor dié moontlikheid te nader,” sê Meyer.

“Die gebeure van die Griekwastad-moorde het die hele land vasgenael gehou en tot vandag word daar steeds geworstel met vrae soos ‘Hoekom? Hoe kan ʼn kind so iets doen? Kan so iets in my familie gebeur’,” sê Meyer.

Rolanda Marais, Tim Theron, Alex van Dyk, Jane de Wet en Deon Lotz is ook in die rolprent te sien.

Griekwastad is van vandag (Dinsdag) op Box Office beskikbaar.

Kyk hier na Floris Groenewald se resensie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Retha ·

Die plaas Naauwhoek het aan my man se Vader en daarna aan hom behoort waar ek dan ook as boervrou die voorreg gehad het om saam met my man te boer en te bly. My man het die plaas aan Don se oupa in 1979 verkoop , juis vir Don se pa . Die plaas het ‘n ryk geskiedenis, van waar dit deur die eerste boer Van Miss Waterboer gekoop is.

ES ·

Ek het die hele hofstuk gelees en dit is so ‘n tragiese storie. Die hartseerste is nie net dat 3 mense hul lewens sinneloos verloor het nie, maar ook dat die plaaswerkers hierna, ook hul werk en enigste inkomste verloor het. Ek wil self vanaand hierdie film kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.