Fliekvlooi Floris se fliekresensie: ‘Moffie’

Die Gautengse première van die internasionaal-bekroonde Oliver Hermanus rolprent, Moffie, wat handel oor die storie van ’n jong dienspligtige wat die alledaagse wreedheid van die weermag in die 1980’s in Suid-Afrika probeer oorleef, is op Woensdag deur Portobello Productions en Penzance Films aangebied.

Dié rolprent is Hermanus se tweede fliek en slegs die vierde Suid-Afrikaanse rolprent ooit wat ʼn amptelike uitnodiging na die Venesiese filmfees ontvang het. Die film het ook onlangs drie benoemings by die British Independent Film Awards (Bifa) verower. Dit het benoemings vir beste regisseur, beste deurbraakvervaardiger (Jack Sidey) en beste kinematografie (Jamie D Ramsay).

Moffie speel in 1981 af en handel oor Nicholas, ʼn jong man, wat soos talle ander mans in daardie tyd, twee jaar van diensplig moet voltooi. Nicholas weet al lank hy is anders en dat daar iets aan hom is wat skandelik en onaanvaarbaar is – iets wat hy ten alle koste moet versteek en ontken.

“Dit gaan oor ʼn jong man in daardie twee jaar van sy lewe en die uitdagings wat daarmee saamkom, en dat hy moet sin maak van sy seksualiteit,” sê Hermanus.

Oliver Hermanus (Foto: Verskaf)

“Dit gaan ook oor die trauma van tieners wat in daardie tyd geïndoktrineer is, en om te verstaan hoe wit mans in Suid-Afrika gevorm is.”

In September 2019 is Moffie, wat vervaardig is deur Portobello Productions en Penzance Films, met groot lof ontvang by die filmfees in Venesië, waar dit vir die eerste keer aan die wêreld bekendgestel is.

Moffie is van meet af ook positief ontvang en Variety het dit bestempel as ʼn “Oliver Hermanus-meesterstuk”. Die film is ook ingesluit by die Thessaloniki-filmfees in Griekeland en die Stockholm-rolprentfees in Skandinawië. Dit sal ook in Skotland, Ierland, Marokko en selfs Estonië vrygestel word, voordat dit in plaaslike bioskope te sien sal wees.

Moffie begin op 13 Maart 2020 in plaaslike bioskope draai.

  • Fliekvlooi Floris Groenewald het na dié rolprent gaan kyk. Hier is sy resensie oor dié fliek wat deur sommige kykers as ‘n “aanval op die sintuie” beskryf is.
  • Stefan Vermaak het met Leonie Bezuidenhout in die Maroela Media-ateljee gesels oor sy rol in dié fliek. Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.