Fliekvlooi Floris se fliekresensie: ‘Skemerson’

Depressie is ʼn siekte soos enige ander siekte; ʼn mens hoef nie skaam te wees om hulp daarvoor te soek nie. Dít is die boodskap van die nuwe Afrikaanse rolprent, Skemerson, wat geestesiektes met empatie, respek en integriteit onder die loep neem.

Die fliek vertel die verhaal van ʼn jong man, Sella, vertolk deur Pietie Beyers, wat besluit om sy eie lewe te neem. Toe hy egter op die 216 meter hoë Bloukrans-boogbrug naby Nature’s Valley staan om ʼn einde aan alles te maak, hoor hy ʼn jong vrou lag. Wanneer Emma, vertolk deur Anneke Weidemann, haar brose ma, die bekroonde aktrise Elize Cawood, en Sella mekaar toevallig op die brug ontmoet, is dit die begin van ʼn naweek wat al drie se lewens vir altyd verander.

Geestesiektes en die stigma wat daaraan kleef is die sentrale tema van Skemerson (Sun Cry Moon), die nuwe rolprent met Philip Rademeyer as regisseur. Beyers het die draaiboek geskryf en het saam met Niel van Deventer (Dis Ek, Anna) die vervaardiging behartig.

Skemerson poog om die boodskap oor te dra dat depressie doeltreffend behandel kan word en dat hulp altyd bekombaar is. Die rolprent is gemaak met die finansiële bystand van die farmaseutiese maatskappy, Cipla Suid-Afrika, wat onder meer ʼn reeks medisyne vervaardig vir die behandeling van depressiewe versteurings.

Anneke Weidemann en Pietie Beyers in 'Skemerson'.

Anneke Weidemann en Pietie Beyers in ‘Skemerson’.

“Ons wou graag die rolprent help befonds as deel van ons oogmerk om te baklei teen die stigmas wat met geestesgesondheidstoestande verband hou,” sê Wouter Lombard, mededirekteur van bemarking in die sentralesenuweestelsel-portefeulje van Cipla.

“Toe Niel van Deventer en Pietie Beyers ons genader het, het ons dadelik besef dat ons dieselfde doelwitte nastreef ‒ om die boodskap uit te dra dat dit oukei is om nie oukei te wees nie en dat dit oukei is om oor geestesgesondheid te praat ‒ ʼn onderwerp wat dringend aandag moet geniet.”

Skemerson is op 3 Mei in fliekteaters landwyd te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sonja Alberts ·

Sien baie uit na die fliek!!!hulle gisteraamnd op Bravo gesien hulle lyk na n cute couplemag die fliek n lewensles vir ons almal wees!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.