Die nuwe Afrikaanse rolprent Stam vertel die verhaal van die verweefde lewens van vyf baie uiteenlopende karakters deur die loop van ’n paar uur in die middestad van Kaapstad.
Stam is geskryf en geregisseer deur Louw Venter. Die fliek het op vanjaar se kykNET Silwerskermfees gedebuteer en is op die Durbanse Internasionale Rolprentfees (DIFF) as die beste Suid-Afrikaanse vollengte rolprent aangewys.
Die rolprent spog met ’n indrukwekkende rolverdeling wat gelei word deur Inge Beckmann, Gideon Lombard, Tarryn Wyngaard en Niza Jay, met Armand Aucamp, Nicola Hanekom, Jill Levenberg en Oscar Peterson in ondersteunende rolle.
Kaapstad met sy besondere soort gebondenheid, verval, towerkrag, globalisering en herontwikkeling speel ook ’n sentrale rol in die rolprent, sê Venter. “Dit is ’n stad wat heeltemal anders is as enige ander plek op aarde.”
Stam is met die ondersteuning van M-Net, kykNet, die departement van handel en nywerheid van Suid-Afrika (SHN), die Nederlands Filmfonds, die Nederlands Film Incentive en die Nasionale Rolprent- en Videostigting vervaardig.
Die internasionale rolprentbedryf het vanjaar in die rigting van virtuele ervarings beweeg en Suid-Afrika is geen uitsondering nie.
Stam sal van laat September op die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) se digitale platform vir vertonings beskikbaar wees asook vroeg in Oktober op BoxOffice te sien wees.
Kyk hier na Floris se resensie van Stam: