Fliekvlooi Floris se fliekresensie: ‘Toorbos’

‘Toorbos’ met Elani Dekker en Stiaan Smith.

Ná ʼn maande lange stilte by rolprentteaters weens die Covid-19-pandemie sal die langverwagte rolprentverwerking van Dalene Matthee se topverkoper Toorbos een van die eerste plaaslike rolprente wees wat sedert die inperking in teaters vertoon word.

Met asemrowende beelde en kinematografie is Toorbos ʼn meesleurende liefdesdrama en vertel die verhaal van Karoliena Kapp, ʼn vrou met ʼn intieme liefde vir en verbintenis met die bos.

Sy ontmoet die man van haar drome, Johannes Stander, en hierdie einste bekoring met die bos veroorsaak dan ʼn liefdesdriehoek wat dreig om haar uitmekaar te skeur wanneer sy moet kies tussen trou en dorp toe trek, of agterbly in die plek waar sy veilig voel.

Die besluite wat Karoliena neem, lei tot ʼn onvergeetlike avontuur van innerlike konflik, verandering, aanvaarding en liefde.

Ons volg vir Karoliena, vertolk deur Elani Dekker (Liewe Lisa, Vergeet my nie), soos sy verbind word tot ʼn huwelik met Johannes, vertolk deur Stiaan Smith (Sy klink soos lente, Meisies wat fluit), en die werklikheid van ʼn selfgerigte, geldsoekende samelewing. Die kyker beleef ook wat dit van Karoliena gaan verg om getrou aan haarself te bly.

Die regisseur en draaiboekskrywer René van Rooyen het ook die kykNET-reeks Alles Malan en die rolprent Mooirivier se regie behartig. Die fliek is vervaardig deur bekroonde rolprentmaker André Scholtz en sy seun Dries Scholtz van The Film Factory. Brendan Barnes het die kinematografie behartig.

Ira Blanckenberg, Clare Marshall, Ivan Abrahams en Gretchen Ramsden is ook in die fliek te sien.

Toorbos het die toekenning gewen vir die Works in Progress- (WIP-)program by die Kaapstad Internasionale Mark-en-Rolprentfees (CTIFMF) in 2018. Die fliek is gekies as een van vyf rolprente uit 54 inskrywings uit 15 Afrikalande. Die fliek het ook in 2019 op die negende kykNET Silwerskermfees gedraai.

Toorbos begin Vrydag 13 November in fliekteaters landwyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

mynie ·

O, kan nie wag om dit te sien nie. Dalene se boeke van die bestes. Puik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.