Fliekvlooi Floris se fliekresensie: ‘Wesens’

Vroeër vanjaar het ʼn kameraversamelaar ʼn boks vol 8 mm- & 16 mm-filmrolle en oudiobande wat van 1967 dateer opgekoop. Die beeldmateriaal in dié rolle wys hoe vier Suid-Afrikaanse intelligensiediens-agente ʼn vreemde voorwerp ondersoek wat in Desember 1967 op ʼn plaas in die Karoo geland het.

Dié filmrolle word nou aan die publiek vertoon in die wetenskapsfiksie-rolprent Wesens. Die rolverdeling van die fliek sluit bekroonde Afrikaanse akteurs soos Albert Maritz (Griekwastad, Trackers), Morné Visser (The HarvesterDis ek, Anna) en Pietie Beyers (Meisies wat fluit, Vergeet my nie) in.

Die skrywer en regisseur, Derick Muller, het dié fliek se genre “Karoo sci-fi” gedoop.

Beyers het onlangs in die Maroela Media-ateljee gesê Wesens is een van die uitsonderlikste rolprente in Afrikaans en het benadruk dat dit slegs fiksie is.

“Wetenskapsfiksie is nie iets wat ek al baie in Afrikaans gesien het nie. Dit is ongewoon en uniek, maar nie op so ʼn manier dat dit mense gaan afskrik nie en ek hoop juis dit trek mense in. Ek is so opgewonde om deel te wees van iets wat moeilik is om te beskryf op die heel beste manier moontlik.”

Wesens begin op Vrydag 23 Oktober in rolprentteaters landwyd en in Namibië draai. Vir ʼn volledige lys van teaters, besoek www.wesens.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae