‘Forbes’ maak lys van hoogsbetaalde akteurs bekend

Dwayne ‘The Rock’ Johnson.

Die tydskrif Forbes het die akteur Dwayne “The Rock” Johnson (48) vir die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as die hoogsbetaalde akteur.

Die voormalige rofstoeier het na raming $87,5 miljoen (sowat R1,5 miljard) tussen 1 Junie 2019 en 1 Junie 2020 verdien. Dit sluit ʼn reusebedrag van $23,5 miljoen vir die Netflix-riller Red Notice in.

Johnson het ook geld verdien uit sy fiksheidsklerereeks Project Rock. Hy is onlangs aangewys as Instagram se nuwe hoogsbetaalde bekende. Kylie Jenner, Selena Gomez en Cristiano Ronaldo het voorheen met dié titel gespog.

Johnson het tans 189 miljoen volgelinge op dié sosialemediaplatform, in vergelyking met Kylie Jenner se 184 miljoen volgelinge.

Forbes berig die top-10 akteurs het gesamentlik sowat $545,5 miljoen (sowat R9,5 miljard) verdien, waarvan meer as ʼn kwart daarvan uit Netflix is.

Ryan Reynolds, Johnson se Red Notice-medester, is die tweede hoogsbetaalde akteur met ʼn inkomste van $71,5 miljoen (sowat R1,2 miljard). Hy het onder meer $20 miljoen vir dié fliek verdien en $20 miljoen vir Six Underground, ook ʼn Netflix-rolprent.

Derde op die lys is akteur en vervaardiger Mark Wahlberg, wat $58 miljoen (sowat R1 miljard) verdien het. Ben Affleck is vierde op die lys en Vin Diesel vyfde.

Die Indiese akteur Akshay Kumar is die enigste Bollywood-ster wat die top-10 gehaal het. Hy is in die sesde plek met ʼn inkomste van $48,5 miljoen, volgens Forbes hoofsaaklik uit bemarkingskontrakte met verskeie produkte.

Die Hamilton-akteur Lin-Manuel Mirand, Will Smith, Adam Sandler en die veteraan-rolprentster Jackie Chan is ook op dié lys.

Die lys van die hoogs betaalde aktrises is nog nie bekend gemaak nie. Scarlett Johansson het verlede jaar koning gekraai met ʼn inkomste van $56 miljoen (sowat R1 miljard) – minder as die akteur wat sewende geplaas is op verlede jaar se lys.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vrijburger ·

Obseen!
En watse waarde voeg hulle werklik toe tot die gemeenskap.
#Hollywoodmustfall

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.