Foto’s: Afrikaanse sterre kuier saam by ‘Susters’-première

susters 1

Quanita Adams, Diaan Lawrenson en Leah. (Foto: Instagram/Leah)

Die sterre van die splinternuwe Afrikaanse familiefliek Susters het Woensdagaand by The Grove Mall in Pretoria bymekaargekom vir die première van dié langverwagte fliek.

Susters vertel die verhaal van drie aangenome susters wat van mekaar vervreemd geraak het en met die afsterwe van hul ma op ʼn ontdekkingsreis gaan. Dis ʼn reis gevul met tere herinneringe, interessante karakters, ongelooflike mooi plekke en dít waarmee die skoner geslag baie goed is – hoe om sakke vol pret te hê.

Leah, die Afrikaanse sangeres en eersdaagse Boer soek ʼn vrou-aanbieder, vertolk die rol van Lexie, ʼn entomoloog wat die wêreld plat reis. Diaan Lawrenson speel die rol van Jo, ʼn stylvolle modeontwerper wat in Londen woon, en Quanita Adams vertolk die rol van Cecile, ʼn Kaapse ma van vier.

Leah het aan die arm van haar man, Hennie van Niekerk, in ʼn blink, heldergeel rok deur Carike Nel voor die kameras gepronk. Diaan het saam met die vervaardiger van die fliek, Jenny Griesel, die glansgeleentheid bygewoon. Sean-Marco Vorster, wat die rol van Frans vertolk, het ook ʼn draai kom maak saam met sy metgesel, die model Jana-Skye Beukman.

Teksskrywers Corine du Toit en Sandra Vaughn asook bekendes soos Jo Black, Caroline-Grace, Willem Botha en Nadia Beukes, het die geleentheid bygewoon.

Karlien van Jaarsveld en haar man, Joe, het ook die fliek kom kyk saam met haar skoonsuster, Annatjie. Bekendes soos Zak Hendrikz, Suzzi Swanepoel, Juanita de Villiers, André Velts en Elsje Slabbert het kleur aan die aand verleen.

Die bekende musiekvervaardiger, Johan Vorster, het ook sy lyf fliekvervaardiger gehou en saam met sy vrou en twee seuns, Rafael en Joshua, na die fliek kom kyk.

Susters begin op 29 Maart in fliekteaters landwyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boerseun ·

En hoeveel van die kastige sterre staan op vir Afrikaans?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.