Foto’s: Britse koninklikes, flieksterre kuier by James Bond-première

Daniel Craig by die première van ‘No time to die’. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

Die première van die lankverwagte James Bond-fliek No time to die is Woensdag uiteindelik in Londen, Brittanje, gehou – 18 maande nadat dit oorspronklik die lig sou sien.

No time to die is Daniel Craig se vyfde en laaste James Bond-fliek.

Hy het op die rooi tapyt aan BBC Radio 5 Live gesê die rol van James Bond was “uiters belangrik vir rolprente en geskiedenis en die gewig daarvan rus al ʼn geruime tyd op my skouers”.

Die fliek sal Donderdag in fliekteaters in Brittanje begin draai.

Die Britse koninklikes het ook gesig gewys by die première. Prins William en sy vrou, Kate Middleton, asook prins Charles en sy vrou, Camilla Parker-Bowles, het die fliek by die Royal Albert Hall gaan kyk.

Naomie Harris, wat vir die derde keer die rol van Moneypenny vertolk, het gesê dit was ʼn “emosionele aand”, aangesien dit Craig se laaste keer in dié rol was.

Die rolprentbedryf hou die loket nou fyn dop om te sien hoe No time to die gaan vaar en of dit groot getalle fliekgangers terug na die teaters kan lok.

“Ek hoop dit spoor mense aan om terug te gaan fliekteater toe en dat hulle gemaklik voel om dit te doen, want dit is so ʼn spesiale fliek,” het Harris aan BBC News gesê.

Prins William, Kate Middleton, Camilla Parker-Bowles en prins Charles. (Foto: Chris Jackson / POOL / AFP)

Lashana Lynch vertolk die rol van ʼn geheime agent genaamd Nomi, en het gesê die karakter is ʼn groot stap vorentoe vir die franchise.

“Ek hou daarvan om na flieks te kyk wat my laat voel asof ek ingesluit is en dat my eie verhaal vertel word.”

Hoewel daar wyd bespiegel word oor wie Craig se opvolger in die rol van James Bond sal wees, het vervaardiger Barbara Broccoli gesê sy en medevervaardiger Michael G Wilson sal eers volgende jaar aan sy plaasvervanger begin dink.

“Ons dink glad nie nou daaroor nie. Ons wil hê Daniel moet gevier word. Ons sal volgende jaar aan die toekoms begin dink,” het Broccoli aan BBC Radio 4 gesê.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Die Britte probeer hard om die laaste huidige Bond-sonder-oemf te bemark. Miskien moes hulle nie na die ewebeeld van Poetin gesoek het nie? Dalk moet hul maar die treurmare stop en iets nuuts probeer.

Hardekwas ·

Ek wonder waar was “prins” andrew? Kruip hy nog weg vir die balju wat sy verkragtings klagte aan hom wil oorhandig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.