Foto’s: Fliek-liefhebbers stroom na Kampsbaai

Silwerskermfees 2019 (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

kykNET se 9de Silwerskermfees het Woensdag by die deftige The Bay Hotel in Kampsbaai in die Wes-Kaap afgeskop, en die room van Suid-Afrika se filmbedryf is reeds besig om hul sitplekke warm te maak vir ʼn week van rolprente en springmielies.

Bekendes soos Donnalee Roberts, Ivan Botha, Amalia Uys, Leandie du Randt, Zak Hendrikz, Beer Adriaanse, Milan Murray, Elsabé Daneel, Mila Guy en Cintaine Schutte is reeds van vroeg af in en uit fliekteaters om die meeste uit dié week te put.

Ses speelfilms het vandeesweek hul première by dié fees en hulle sal in aanmerking kom vir ʼn kykNET Silwerskerm-toekenning, wat Saterdag by ʼn glansgeleentheid by The Bay Hotel uitgedeel sal word. Dié vollengte-speelfilms is Fiela se kind, Flatland, Griekwastad, Die verhaal van Racheltjie de Beer, Toorbos en Poppie Nongena.

Die fees se kortfilmprojek sluit hierdie jaar 14 films van 22 minute elk in, wat ook almal in aanmerking kom vir ʼn kykNET Silwerskerm-toekenning.

Drie internasionale gaste is vanjaar by die fees te sien: Peter Cowley, wat spesialiseer in bemarkingsinhoud, kort- en langformaatinhoud vir uitsaaiers en die bestuur van digitale kanale en platforms, Dorothee Wenner, ’n vryskutfilmmaker, skrywer en filmfeeskurator wat in Berlyn woon, en die Suid-Afrikaans gebore akteur Arnold Vosloo, wat die rol van kol. Dick de Waal in die Griekwastad speel. Vosloo sal ook as spreker by die fees optree.

Vanjaar was daar ook ʼn digitale kategorie wat deel gevorm het van die inskrywings. Vier verskillende web-episodes is aan die begin van die fees op kykNET se webwerf gelaai en die episode met die meeste kykers sal as die wenner in hierdie kategorie by die Silwerskerm-toekennings aangewys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sonja Alberts ·

Sou my oogtande gegee het om daar te kon wees!!Is jammer is so ver.ek en my man is verslaaf aan die produksies en KykNet is wonderlik!!!Niks is lekkerder as trots Afrikaans nie welldone aan elke akteur/ekstra/regisseur sal julle altyd ondersteun!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.