Foto’s: Groot makietie met première van ‘Redeeming Love’

(Foto: Verskaf)

Die rooi tapyt is opnuut uitgerol vir die première van die lankverwagte fliekweergawe van Francine Rivers se bekende boek, Redeeming Love. Dié glansgeleentheid het Woensdagaand in Hyde Park, Johannesburg, plaasgevind.

Die feesviering was een van die eerste van sy soort sedert die Covid-19-pandemie in 2020 begin het. Dan is die rolverdeling van dié liefdesverhaal boonop deurspek met bekende Suid-Afrikaanse gesigte. Van die bekendes wat in die fliek te siene is, is Brandon Auret, Milton Schorr, Clyde Berning, Lauren McGregor, Daniah de Villiers en Paul Snodgrass. Ander bekende internasionale name sluit Nina Dobrev (van The Vampire Diaries) en Eric Dane (van Grey’s Anatomy) in.

Dit is twee jaar sedert die fliek geskiet is, het Milton Schorr, wat Colin vertolk, vertel. “Dit is ʼn baie mooi fliek, dis wonderlik om hier in Johannesburg te wees – dit voel asof die wêreld geleidelik weer wakker word.”

Daniah de Villiers (bekend vir haar rolle in Binnelanders en Meerkat Maantuig), wat Miriam Altman in die fliek vertolk, het geskerts dat sy nog nie die fliek gesien het nie, maar opgewonde is om die harde werk van die span op die grootskerm te sien.

“Om te dink, ons kon teruggaan in tyd na die 1850’s in Kalifornië terwyl ons eintlik in Stellenbosch was – dit was omtrent ʼn reis gewees,” het sy vertel. Sy het die kostuums wat spesiaal vir die periodedrama ontwerp is, geniet.

Die akteurs het soos een man saamgestem oor die boodskap van die fliek: liefde, oorwinning en hoop.

“Die fliek gaan oor liefde, maar vir my is daar iets diepers – hoop. Solank daar hoop is, is daar iets om aan vas te hou,” het Schorr gesê.

Leigh Clarke, lynvervaardiger van die rolprent, het met dankbaarheid getuig oor die reis waarop die internasionale produksie die afgelope paar jaar was. Voordat sy oor die belangrikheid van die fliek gesels het, het sy skertsend opgemerk dat hulle die hele projek deur gebid en gevas het.

“Een van die vervaardigers, Brittany Yost, het vyf jaar lank met gerehabiliteerde sekswerkers gewerk. Sy is só passievol hieroor. Hierdie fliek is ʼn absolute lewensdroom, en om dit te kan sien bewaarheid word, is ongelooflik.”

Clyde Berning, wat Rab vertolk, het met trots vertel van die invloed wat die Suid-Afrikaanse akteurs en span op die internasionale produksie gehad het. “Daar was soveel Suid-Afrikaanse mense betrokke by die maak van die fliek gewees, wat só goed is vir ons vermaakbedryf. Ons kon bewys dat ons op ʼn internasionale vlak kan meeding,” het hy gesê.

Die fliek kan van Vrydag af in fliekteaters landwyd gesien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chantel ·

Ek het jare terug die boek gelees, kan nie wag vir die fliek nie.

LIEZL ·

Ek het baie lank terug ook ‘The atonement child’ gelees, Dit het my vry gemaak van baie dinge in my eie lewe en ook nuwe perspektief gegee. Voorwaar goeie leesstof.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.