Foto’s: Hollywood dra swart by Golden Globes

Catherine Zeta Jones op die glanstapyt tydens die 75ste Golden Globe-toekenningsgeleentheid in Beverly Hills. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die room van Hollywood het Sondagaand tydens die 75ste Golden Globe-toekennings in Beverly Hills in Kalifornië in hul glansrykste swart aanddrag byeengekom om dié jaarlikse geleentheid te vier.

Die swart uitrustings is gedra om solidariteit te toon met die Time’s Up-veldtog wat onlangs deur die vroue van Hollywood van stapel gestuur is. Maroela Media het vroeër berig dié veldtog teen seksuele misbruik en ongelykheid in die werkplek word deur ʼn groep van sowat 300 Hollywood-bekendes ondersteun.

A-lys-aktrises soos Meryl Streep, wat genomineer is vir haar rol in The Post, en Allison Janney, wat met die toekenning vir beste vrouebyspeler in ʼn fliek vir I, Tonya, vereer is, het in hul swart aandrokke op die glanstapyt gepronk.

Streep, wat saam met die vroueregte-aktivis Ai-jen Poo by die toekenningsgeleentheid aangekom het, het gesê sy het swart gekies om te wys sy staan saam met ander wat die magswanbalans wat lei tot seksuele misbruik wil herstel.

Meryl Streep en Ai-jen Poo. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

“Ons wil dit regmaak en ons voel aangemoedig op dié spesifieke oomblik om saam te staan soos ʼn dik swart lyn,” het Streep aan die E! News-aanbieder Ryan Seacrest gesê. Seacrest het ook swart gedra.

Hoewel die glanstapyt deur swart uitrustings oorheers is, het sommige aktrises hul eie stempel daarop afgedruk. Allison Williams van Girls-faam het ʼn oranje-en-silwer bostuk gedra saam met ʼn swart Armani Prive-tabberd terwyl die American Idols-sangeres Kelly Clarkson goud om die halslyn en een mou van haar swart rok deur Christian Siriano gevoeg het.

Jessica Biel, wat die toekenningsgeleentheid saam met haar man, Justin Timberlake, bygewoon het, het ʼn moulose Dior-rok met fyn versierings op deurskynende materiaal gedra. Shailene Woodley was uitgedos in ʼn silwer satynbostuk met ʼn swart tulleromp deur Ralph Lauren.

Claire Foy, wat die rol vertolk van koningin Elizabeth in die Netflix-reeks The Crown, het ʼn swart broekpak gedra en Tracee Ellis Ross van die reeks Black-ish het ʼn swart halternekrok deur Marc Jacobs gekies.

Die immergroen aktrise Catherine Zeta Jones het ʼn deurskynende kantskepping, ʼn A-lyn-rok deur Zuhair Murad, gedra terwyl Margot Robbie, ster van I, Tonya, ʼn swart satyn-V-hals-rok van Gucci gedra het.

Margaret Gardiner en Demi-Leigh Nel-Peters blaas soene vir die kamera. (Foto: Facebook/Margaret Gardiner)

Suid-Afrika se jongste uitvoerproduk na Hollywood, Demi-Leigh Nel-Peters, het in haar hoedanigheid as Mej. Heelal op die rooitapyt gepronk saam met die Suid-Afrikaanse skoonheid Margaret Gardiner, wat ook in 1978 as Mej. Heelal aangewys is.

Die mans het ook skaamteloos hul ondersteuning aan die veldtog betoon deur swart snyerspakke te dra. Chris Sullivan van This is Us-faam het ʼn tradisionele swart pak gedra en sy swart naelpolitoer trots vertoon.

Daniel Kaluuya, ster van Get Out, het ʼn swart Gucci-pak gedra met ʼn borsspeld met die woorde “Time’s up” op die lapel. Hy het gesê hy “voel geëerd om vroue in hul stryd teen die onnodige booshede van die bedryf by te staan”.

Alfred Molina van Feud: Betty and Joan was ook een van die mans wat ‘n tradisionele swart pak met ‘n swart hemp gedra het. David Harbour van die Netflix-reeks Stranger Things sowel as die sanger Nick Jonas en Bob Odenkirk van The Post het ook dié styl gekies.

“Dit betoon solidariteit in ‘n mate,” het Molina aan The Associated Press gesê. “Ek kan vir jou sê dit is ‘n baie klein gebaar. Ek wat swart dra gaan niks verander nie, maar van klein gebare kom grotes. Ek dink dit is belangrik om vroue te laat weet dat jy na hulle luister en hulle glo.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.