Foto’s: ‘House of Gucci’-sterre kuier in Brittanje

Lada Gaga in ‘n pers Gucci-skepping tydens die première van ‘House van Gucci’. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

Die lankverwagte rolprent, House of Gucci, se mediatoer het Dinsdag amptelik in Brittanje met ʼn sterbelaaide première by die Odeon Luxe Leicester Square in Londen afgeskop.

Sterre soos Lady Gaga, Adam Driver, Salma Hayek en Jared Leto het die rooi tapyt betree om die fliek wat geregisseer is deur Ridley Scott te bemark.

Lady Gaga, wat die rol van Patrizia Reggiani vertolk, het die geleentheid in ʼn treffende pers Gucci-skepping bygewoon. Sy het dié chiffonrok saam met swart visnetkouse, handskoene wat met kristalle versier is en haar kenmerkende Pleaser-stewels gedra. Haar pers oogskadu het ook by die rok gepas.

House of Gucci vertel die verhaal van Reggiani wat ʼn huurmoordenaar betaal om haar eksman, Maurizio Gucci (vertolk deur Driver), te vermoor.

Van links na regs is Salma Hayek, Jared Leto, Adam Driver en Lady Gaga op die première van ‘House of Gucci’ in Londen. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

Hayek het in ʼn goue Gucci-rok met ʼn plissé-halslyn, silwer metaalagtige skoene en goudgeel juwele verskyn.

Leto het ʼn blou fluweelpak met ʼn satynafwerking saam met wit stewels en ʼn diamanthalssnoer gedra. Driver het ʼn vlootblou Burberry-pak en ʼn das gedra.

Akteurs soos Al Pacino, Jeremy Irons, Reeve Carney en Jack Huston is ook in House of Gucci te sien. Die fliek is geskoei op die boek, The House of Gucci: A Sensational Story of Murder, Madness, Glamour and Greed, deur Sara Gay Forden.

Dit is Lady Gaga se tweede hoofrol in ʼn rolprent. Sy het voorheen teenoor Bradley Cooper in die Oscar-bekroonde fliek, A Star is Born, gespeel. Sy is vir ʼn Oscar vir beste aktrise benoem vir dié rol.

House of Gucci begin op 24 November in fliekteaters wys.

Bron: People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.