Foto’s: ‘Jou Romeo’-première: ʼn Fliek vir die hele gesin

Jou Romeo (Foto: Facebook)

Jou Romeo (Foto: Facebook)

Hoe gemaak wanneer jy al maande droom om Romeo & Juliet op die planke te bring en dan skielik die nuus ontvang: Die skool se dramabegroting is gesny en sou jy wou voortgaan, lê die verantwoordelikheid by jou.

Jy kry natuurlik die gewildste seun in die skool, die regte hartebreker en krieketheld om die hoofrol te vertolk.

Dít is die verhaal van die nuwe Afrikaanse fliek Jou Romeo.

Die glansryke première het Donderdag by die Cradlestone-inkopiesentrum in Krugersdorp plaasgevind.

Die fliek vertel die verhaal van Marko Marais (Ruan Wessels), die gewildste ou in Hoërskool Monument, wat uit sy gemaksone moet kom om voete na dié verhoogproduksie te lok.

Je-Ani Swiegelaar, Ruan Wessels en Leandi du Randt (Foto: Verskaf)

Je-Ani Swiegelaar, Ruan Wessels en Leandi du Randt (Foto: Verskaf)

Hy en die “drama-geek”, Yvette (Elani Dekker), verskil soos dag en nag, maar ware liefde stuur op ’n botsing af in hierdie verhaal oor romanse, Shakespeare, krieket, vriendskap en onvoorwaardelike aanvaarding.

Om te behoort is een van die temas wat die fliek verken. So ook om ander na waarde te skat en om ongewone kwaliteite in ander te ontdek.

Die Afrikaanse sanger Loki Rothman is grootliks verantwoordelik vir die klankbaan. Die temalied, “Ons op ons eie”, is in Oktober vanjaar uitgereik. Die liedjie is ook op die Afrikaans is groot vol. 9-album beskikbaar.

Akteurs soos Diaan Lawrence, Dirk Stoltz, Sarahann Doherty en Carmin Coetzer is in die fliek te sien.

Jou Romeo is deur The Film Factory vervaardig en draai van 23 Desember 2016 in fliekteaters landswyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.