Foto’s: Konsentrasiekamp-fliek amptelik bekendgestel

Forum Films se rolprent Begrond wat geskoei is op die eerste gelyknamige fiksiewerk uit die pen van dr. Dirk Hermann, is Woensdagaand amptelik in die AfriForum-teater in Pretoria bekend gestel.

Sowat 8 600 Afrikaanse fliekkykers het wêreldwyd virtueel ingeskakel om ook na dié lankverwagte rolprent te kyk.

Die rolverdeling sluit onder andere gesoute akteurs soos Carla Smith, Natania van Heerden, Luan Jacobs, Hanno Hattingh en Lida Botha in.

Elrich Yssel het die draaiboek saam met Claudia van Zyl geskryf. Yssel het ook die regie behartig.

Volgens Yssel het die hoofkarakter, Katryn (vertolk deur Smith), vir hom die storie se egtheid na vore gebring.

“Selfs in die ergste tye het Katryn ongelooflike moeilike keuses moes maak. Sy is ʼn karakter wat nie bang is om haar hande vuil te maak nie. Die manier hoe Carla dié rol vertolk het en hoe sy haar stem gebruik het om die storie te vertel, is ongelooflik,” het Yssel aan die gehoor gesê.

Die fliek is sowat 50 minute lank.

“Katryn se dagboekinskrywings het soveel egtheid aan die storie verleen en ek wou graag daarmee werk, daarom het ek dit as ʼn vertelling verwerk toe ek die draaiboek geskryf het. Die narratief het ʼn baie groot rol gespeel en Carla se stem dra tot ʼn groot mate by tot die storie.”

Dr. Dirk Hermann en Elrich Yssel gesels oor ‘Begrond’. (Foto: Verskaf)

Yssel was ook vol lof vir die res van die rolverdeling. “Julle het die verhaal gedra en by tye het julle my gedra.”

Begrond is ʼn aangrypende verhaal rondom ʼn plaasmoord in Suid-Afrika wat die jong Faan Venter, sy familie en die gemeenskap tot in hul fondamente skud. Faan keer terug na die familieplaas waar sy oupa Faan wreed vermoor is en hier probeer hy antwoorde kry. Uit briewe van sy grootouma Katryn kom daar lig.

Die verhaal gaan maak ʼn wye draai by die Heilbron-konsentrasiekamp, die krygsgevangenekamp op Ceylon en die swaarkrytyd ná die Vryheidsoorlog toe sy voorouers by dieselfde kruispad gestaan het. Hulle het die plaas se naam verander na Staan op!

Soos sy ouma Katryn skryf: “[E]k vertrou dit gee jou insig in my ou tyd, antwoorde vir die nuwe tyd en hoop vir die toekomstige tyd.” Dit word ʼn boeiende verhaal van trane, liefde en hoop wat oor sewe geslagte strek.

Die verhaal is ook deur Joe Kleinhans tot ʼn enkelradiodrama verwerk. Die regisseur is Bettie Kemp.

Kyk hier na Begrond:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.