Foto’s: Margot Robbie en Ryan Gosling poppie-paartjie in nuwe ‘Barbie’-fliek

Margot Robbie en Ryan Gosling op die stel van “Barbie”. (Foto: Instagram/Vogue)

Komaan Barbie, laat ons “party”!

Nuwe foto’s op die stel van die komende Barbie-fliek het die internet die afgelope naweek behoorlik aan die gons gehad.

Margot Robbie en Ryan Gosling gee lewe aan die poppie-paartjie, Barbie en Ken, in dié nuwe fliek wat 23 Julie op die silwerskerm te sien sal wees.

Die publiek het in April vanjaar die eerste voorsmakie van Barbie gekry toe Warner Bros. Pictures ʼn foto van Robbie, ʼn Oscar-bekroonde aktrise, in dié rol as die wêreld se beroemdste pop gedeel het.

ʼn Foto van Gosling, waarin sy hare spierwit gekleur is en sy blokkiesmaag beklemtoon word, is kort daarna ook op sosiale media gedeel.

Robbie en Gosling op die stel. (Foto: Instagram/Vogue)

Hoewel daar nog bitter min oor die fliek se storielyn gedeel is, blyk dit egter nie ʼn rolprent te wees wat net op kinders gemik is nie. Die fliek se amptelike IMBD-blad lui “ʼn pop wat in Barbieland woon word geskors omdat dit nie perfek genoeg is nie en vertrek op ʼn avontuur in die regte wêreld”.

Dit is die eerste keer dat ʼn Barbie-fliek met akteurs gemaak word.

Greta Gerwig, wat lof én drie Oscar-benoemings vir haar rolprente soos Little Women en Lady Bird ontvang het, sit in die regisseurstoel en die komediant Will Farrell en Ugly Betty-aktrise America Ferrera is ook in die fliek te sien.

Sedert April word daar kort-kort stelfoto’s deur steelfotograwe geneem en uitgereik.

Die modetydskrif Vogue het ook onlangs foto’s van Robbie en Gosling in helderkleurige 1980’s geïnspireerde rolskaatspakkies, sowel as pienk cowboy-uitrustings gedeel.

Margot Robbie gaan die wêreld se bekendste pop in “Barbie” speel. (Foto: Instagram/Vogue)

The Hollywood Reporter het vroeër berig dat die komediant Amy Schumer aanvanklik in Barbie se pienk skoene sou loop en boonop die draaiboek sou help skryf. Die aktrise het egter aan die publikasie gesê dat sy besluit het om die projek te verlaat omdat sy en die rolprentmakers koppe gestamp het oor die fliek se storielyn.

Bronne: Entertainment Weekly, Vogue, The Hollywood Reporter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Sal maar wag en moet sien of hierdie werklike Barbie en Ken hulle Pop-(rol)modelle se naam gestand sal doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.