Foto’s: Modes, geskiedkundige oomblikke maak opslae by Oscars

Jessica Chastain met haar Oscar-beeldjie vir beste aktrise vir ‘The Eyes of Tammy Faye’ by die Vanity Fair Oscar-partytjie wat by die Wallis Annenberg Center for the Performing Arts in Beverly Hills, Kalifornië, aangebied is. (Foto: Patrick T. Fallon/AFP)

Bekendes het oudergewoonte geskitter tydens die 94ste jaarlikse Oscars-toekenningsgeleentheid wat Sondagaand in die Dolby-teater in Los Angeles, VSA, aangebied is.

Dit was ʼn aand vol verrassings en geskiedkundige oomblikke. Nie net het die akteur Will Smith die prys vir beste akteur vir sy rol in die fliek King Richard ingeoes nie, maar het hy ook opslae gemaak toe hy die komediant Chris Rock op die verhoog geklap het oor ʼn grap wat dié oor sy vrou, Jada Pinkett Smith, gemaak het.

Die akteur Troy Kotsur het die eerste dowe akteur geword wat die Oscar vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol gewen het vir die fliek CODA. CODA is ook gekies as beste rolprent.

Jane Compion het die prys vir beste regisseur vir The Power of the Dog gewen terwyl die wetenskapfiksierolprent Dune die pryse vir beste redigering, beste oorspronklike klankbaan, beste klank en beste visuele effekte ingeoes het.

Die rooikop-aktrise Jessica Chastain het die toekenning vir beste aktrise gewen vir The Eyes of Tammy Faye en Ariana DeBose het die prys vir beste aktrise in ʼn ondersteunende rol gewen vir Steven Spielberg se nuwe verwerking van die fliek West Side Story.

Encanto is gekies as beste animasierolprent en die popster Billie Eilish het die prys vir beste oorspronklike liedjie, die titelsnit van die James Bond-fliek No Time to Die, huis toe geneem.

Will Smith en sy vrou, Jada Pinkett Smith. (Foto: Facebook)

Ontwerpers en modehuise soos Chanel, Saint Laurent, Schiaparelli, Louis Vuitton, Prada, Valentino Haute Couture, Bottega Veneta, Dior Haute Couture, Michael Kors, Miu Miu, Lacroix en Gucci se skeppings het by die geleentheid ʼn verskyning gemaak.

Maggie Gyllenhaal (in Schiaparelli), Lupita Nyong’o (in Prada) en Serena Williams (in Gucci) het onder meer Vogue se lys van die besgeklede bekendes op die geleentheid gehaal.

Die aanbieders by dié geleentheid was Amy Schumer, Wanda Sykes en Regina Hall.

Hier is ‘n volledige lys van die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.