[Foto’s] ‘My Father’s War’: dis oorlog tussen pa en seun

Stian Bam, Erica Wessels en Edwin van der Walt. Foto: Verskaf

Stian Bam, Erica Wessels en Edwin van der Walt. Foto: Verskaf

My Father’s War, ʼn drama in Afrikaans en Engels wat fokus op die gebroke verhouding tussen ʼn pa en sy rebelse tienerseun, word later vanjaar landwyd in teaters vrygestel.

Die fliek speel af in 2003 en vertel van die verhouding tussen die 19-jarige Dap Smit (Edwin van der Walt), wat konstant baklei met sy pa, Dawid (Stian Bam), ʼn veteraan van die Grensoorlog. Die mans kan oor niks saamstem nie en daar is min hoop op versoening.

Dawid se vrou, Karina (Erica Wessels), is in die middel van hul worsteling vasgevang.

Dinge verander egter drasties toe Dap een aand droom hy is ʼn soldaat tydens die Grensoorlog in die 1980’s. In die droom ontmoet hy sy pa op sy ouderdom en hierdie drome verander sy persepsie van sy pa en sy lewe heeltemal.

Peter Lamberti, vervaardiger en Craig Gardner, skrywer en regisseur, sê die grootste uitdaging van die fliek was om die tema van ʼn gebroke verhouding met die Grensoorlog te kombineer en ʼn generasiegaping tussen ʼn pa en sy seun te oorkom aangesien die oorlog feitlik dertig jaar gelede plaasgevind het.

“Elke droom is geskep om die ontvouende storie te onthul. Dus is daar nie enige ongeoorloofde vegtonele nie. Die oorlogsdrome is eerder mikrokosmosse van ware gebeure, wat by fiksie aansluit om óf die karakters óf die storielyn te bevorder – klein ‘mini-stories’ – binne die groter verhaal,” het Craig gesê.

Hy vertel ook die oorlog in die fliek is as ʼn kreatiewe instrument gebruik om die storie van die pa en seun tot ʼn uitkoms te dryf. “Ons het met opset nie ʼn morele standpunt oor die konflik self gelewer nie. Hierdie is nie ʼn Grensoorlog-rolprent nie – dit is ʼn verhoudingsdrama, wat die kern van feitlik elke suksesvolle fliek is. My Father’s War fokus op die gebroke verhouding tussen ʼn pa en sy seun.”

Craig en Lamberti sê hulle wil ʼn wye gehoor bereik met die fliek. “Dit sal hopelik ʼn katarsis te wees wat herinneringe oproep, spoke wegdryf en help om meer begrip te skep, selfs by diegene wat niks met die oorlog te doen gehad het nie. Enige ouer en kind sal op ʼn persoonlike vlak hierby aanklank kan vind.”

Ander akteurs sluit in Neels Clasen, Hannes Muller, Meren Reddy, Fumini Shulubana, Jai’prakesh Shewram en David Rees.

My Father’s War begin op 5 Augustus 2016 landwyd in fliekteaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karma ·

Ja …. vir diegene wat te jonk is om die Grensoorlog te onthou, sal die fliek tien teen een net nóg ‘n fliek wees met oorlog as basis. Maar vir ons (ouer) geslag was dit die waarheid: ons boeties het “bos” toe gegaan. Daardie tyd is daar gesê: “Die Army maak ‘n man van elke seun”. Elke aand, met die ses-uur nuus op TV het jy so ‘n koue rilling gekry as die agtergrondfoto van die vegtende Grensoorlogsoldaat verskyn, met die name van lede van die SAW wat daaroor gerol het, wie gesterf het in dié konflik. En vir wat, vandag? Vandag lê daardie einste grense wat ons jong seuns, twee geslagte gelede, met bloed en hul lewens voor geboet het, oop. OOP, sodat ieder en elke skelm Noord-Afrikaan kan oorstap soos hulle wil.

Paul dB ·

Ek weet dat hierdie waarskeinlik gaan aanleiding gee tot ‘n debat wat min met die nuwe film te doen gaan hê, maar die vorige kommentaar het my weer laat vra wat die oorlog op die grens nou eintlik vir ons beteken het??
Ek kan nie anders as om met trots te sê dat ek deel van daardie proses was nie! Want ek is trots!
Ek dink dat om die “Grensoorlog” en die binnelandse (Suid-Afrikaanse) poletiek met mekaar te verbind, ‘ n fout sou wees. Alhoewel daar tog verbinding is, is dit meer indierek as direk??
Die Grensoorlog het my insiens, meer gegaan oor die geveg tussen vryhede wat met kapitalisme en demokrasie te doen het, en die onderdrukking en ingeperktheid wat met kommunisme gepaard gaan. Die Grensoorlog en sogenaamde “Appartheidspoletiek” het nie direk met mekaar te doen nie! Die een is in ‘n groot mate los van die ander….
Ek het dus nie op die grens geveg vir die behoud van Appartheid nie, maar vir die behoud van demokrassie, godsdiensvryheid an alles wat daarmee gepaard gaan! Dit was dus eerder ‘n oorlog vir die behoud van sogenaamde “Westerse” vryhede as wat dit ‘n oorlog was wat die Nasionale party se binnelandse beleid wou behou….
Die Grensoorlog het dus tot gevolg gehad dat ons darrem nog ‘n staat is wat onder die wet van die konstetusie val, as ‘n staat wat onder kommunisme onderwerp so wees!

Elizabeth Margaret Harms ·

Uitstekend!!! n Moet sien. Kom ons ondersteun ons eie SA mense.
Stuur vir almal wat jy ken hierdie link – sodat ons hulle kan ondersteun.
Jy sal nie spyt wees jyt tyd gemaak vir hierdie een nie. Geluk Graig en
jou span!! Julle het dit alweer gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.