[Foto’s] Prinsloo en Weyers weer saam op silwerdoek

Marius Weyers en Sandra Prinsloo. Foto: Verskaf

Marius Weyers en Sandra Prinsloo. Foto: Verskaf

Die geliefde akteurs, Marius Weyers en Sandra Prinsloo, is vir die eerste keer in twee dekades weer saam op die silwerdoek te sien in die nuwe Afrikaanse fliek, Twee Grade Van Moord.

Dié twee akteurs het saam in meer as 200 verhoogproduksies en meer as 35 vollengte flieks gespeel, maar was in 1989 laas saam op die grootskerm.

Twee Grade Van Moord speel af in die Kaap en is geregisseer deur Gerrit Schoonhoven.

Die fliek vertel die storie van Aleksa Cloete (Sandra Prinsloo), ʼn bekende Kaapstadse sielkundige, met ʼn topverkoperboek wat haar intellektuele standpunt oor die liefde onderskryf, hoewel haar lang en gelukkige huwelik met Ben (Marius Weyers) dit weerspreek.

Hul enigste kind, Christiaan (Roelof Storm), is gedwing om in sy grootwordjare baie staat te maak op die liefde van sy “tweede ma”, die lojale huiswerker, Fy Abrahams (Shaleen Surtie-Richards).

Aleksa onderneem om deel te wees van ʼn dokumentêre werklikheidsreeks wat fokus op haar terapeutiese werk met vrouens wat liefde met pyn verwar. Een van haar pasiënte, Tanya Basson (Hilda Cronje), stem in om die proefkonyn te wees.

Ben kry ʼn hartaanval en Tanya kom terselfdertyd by Aleksa se huis aan met die nuus dat sy haar kêrel tydens ʼn gewelddadige argument vermoor het. Aleksa besef sy het Tanya se emosionele toestand heeltemal onderskat en op dieselfde tyd deel Ben haar mee dat hy ʼn belangrike besluit oor sy eie toekoms en lewe geneem het.

Soos wat die verhaal vorder, word Aleksa gedwing om haar eie integriteit te bevraagteken en ook haar bereidwilligheid oor wat sy sal op opoffer vir diegene wat sy lief het. Uiteindelik moet sy die vraag antwoord: “Wat sal die liefde doen?” 

Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution, sê die akteurs wys ook ʼn ander sy van liefde in die fliek. “Prinsloo en Weyers is twee talentvolle akteurs wat skitter in hierdie ingewikkelde rolle om die ware en moeilike aard van liefde op die silwerdoek te vertolk,” het sy gesê.

Barry Strick, die vervaardiger, sê dié twee akteurs lewer saam onvergeetlike toneelspel.  “Hulle het nog net in vier films saam verskyn, waaronder die bekende The Gods Must Be Crazy in 1981. Die laaste keer wat hulle saam in ʼn fliek gespeel het was in 1989, wat Twee Grade Van Moord ʼn langverwagte reünie van die twee uitmuntende akteurs maak en ʼn mylpaal in Suid-Afrika se filmgeskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Essie ·

Kan nie wag om hulle te sien nie- hul toneelspel is puik soos altyd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.