Foto’s: Só kuier bekendes saam by Silwerskermfees

Stiekyt se akteurs by die 10de kykNET Silwerskermfees. (Foto: Maroela Media)

Verskeie rolspelers in die Afrikaanse rolprentbedryf kuier hierdie week in Kampsbaai vir kykNET se 10de Silwerskermfees.

Hoogtepunte van die tweede feesdag sluit in Leemtes en leegheid, ʼn roerende kortfliek met die akteurspaar Johan en Lida Botha, Lakutshon’ Ilanga, wat vir ʼn Bafta-toekenning benoem is en in 2021 ʼn Oscar gewen het in die Student Academy-kategorie, asook die premiere van twee vollengte rolprente, Down so long en Stiekyt.

Maroela Media het op kykNET se blou tapyt met ʼn paar van Stiekyt se akteurs oor die fliek en hulle ervaring van vanjaar se fees gesels.

Paul du Toit, wat die hoofrol speel, het spesiaal van Kanada af gekom vir die bekendstelling van die rolprent.

“As Suid-Afrikaners is ons nie bang om flieks te maak oor die groot issues nie en ons is nie bang vir die moeilike vrae nie. Ons maak flieks wat belangrik is en wat met ons praat. Dit is waarom ek bereid was om terug te kom,” sê Du Toit.

Etienne Fourie, regisseur en draaiboekskrywer, meen dit is moeilik om aan die Afrikaanse rolprentbedryf te dink sonder die Silwerskermfees.

“Hierdie fees hou die bedryf in verskeie opsigte lewendig. Baie van ons lewe soos kluisenaars, en een keer ʼn jaar kan ons mekaar hier kry om idees te bespreek en opgewonde te raak oor die jaar wat voorlê.”

Volgens Ilse Roos bied die fees ʼn ongelooflike platform vir die bevordering van nuwe flieks, asook vir besprekings en jong talent.

Ivan Botha en Roberts se jongste rolprent, Beurtkrag, het Woensdag saam met Indemnity ʼn première gehad en kom vir die Silwerskerm-toekennings in aanmerking. Ander rolprente wat in die kategorie vir vollengte rolprente meeding, is Barakat, Gaia, Kaalgat Karel, Klein Karoo 2, en Vlugtig.

Die fees se kortfliekprojek het vanjaar 17 flieks van 22 minute elk ontwikkel, wat ook vir Silwerskerm-toekennings in aanmerking kom. Die toekennings word Saterdag tydens ʼn spoggeleentheid by The Bay Hotel uitgedeel.

Die akteurspaar Lida en Johan Botha. (Foto: Retha Ferguson)

Die kykNET Silwerskermfees word vanjaar vir die eerste keer in ʼn byderwetse hibriede formaat aangebied. Rolprente wat in die Rotunda, die fees se hoofvenue, vertoon word, kan gelyktydig op die Silwerskermfees se webwerf gestroom word. Op dié manier bou die fees voort op sy visie om verskeie aspekte van die plaaslike rolprentbedryf te ondersteun en te ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.