Foto’s: Só lyk vanjaar se Silwerskerm-wenners

Die span wenners van die fliek 'Kanarie'. (Foto: Retha Ferguson)

Die span wenners van die fliek ‘Kanarie’. (Foto: Retha Ferguson)

Die room van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf het vanjaar vir die agtste keer by The Bay Hotel in Kampsbaai byeengekom om die jaarlikse kykNET Silwerskermfees te vier.

Die fees poog om elke jaar gevestigde rolspelers en jong opkomende rolprentmakers byeen te bring en ʼn geleentheid te skep waar kennis gedeel, en nuwe geleenthede geskep kan word.

Vanjaar se fees het bestaan uit 54 rolprente, insluitende dokumentêre, kortflieks van 11 en 22 minute, asook ʼn verskeidenheid vollengteflieks.

Die kortfliekprojek lewer elke jaar werk van opwindende nuwe stemme wat vreesloos met rolprent-genres eksperimenteer. Dié projek dien as ʼn inspuiting vir die bedryf, en nuwe talent en rolprentmakers kry die geleentheid om hul rolprente onder die leiding van mentors te ontwikkel.

Die toekenningsgeleentheid het Saterdagaand in die Rotunda van dié luukse hotel plaasgevind en die jong regisseur en draaiboekskrywer Christiaan Olwagen se rolprent Kanarie het skoonskip gemaak tydens dié geleentheid.

Dié vollengtefliek, met Schalk Bezuidenhout in die hoofrol, is met ses toekennings bekroon, onder meer vir beste produksie-ontwerp (Rocco Pool), beste redigering (Eva du Preez) en beste manlike byspeler (Germandt Geldenhuys).

Olwagen is ook met die toekenning vir beste regisseur vereer en dié fliek is boonop aangewys as beste vollengtefliek.

Cintaine Schutte is as beste vroulike byspeler aangewys vir haar rol as Masha in 'Die Seemeeu'. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Cintaine Schutte is as beste vroulike byspeler aangewys vir haar rol as Masha in ‘Die Seemeeu’. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Charl-Johan Lingenfelder, wat saam met Olwagen aan Kanarie se draaiboek geskryf het, is vereer met ʼn spesiale Silwerskermlens-toekenning vir sy oorspronklike musiekverwerkings en komposisies vir dié rolprent.

Cintaine Schutte is bekroon as beste vroulike byspeler vir haar rol as Masha in Die Seemeeu, Olwagen se tweede rolprent wat vanjaar tydens die fees tentoongestel is.

Ellen, Die storie van Ellen Pakkies is met drie toekennings vereer. Jill Levenberg het met die beeldjie vir beste aktrise in ʼn vollengtefliek weggestap vir haar rol as Ellen Pakkies. Jarrid Geduld, wat die rol van Ellen se seun vertolk, is vereer as beste akteur in ʼn vollengtefliek.

Amy Jephta, wat verlede jaar bekroon is vir beste draaiboek vir die kortfliek Soldaat, het vanjaar met die louere vir beste draaiboek vir ʼn vollengtefliek weggestap vir Ellen, Die storie van Ellen Pakkies, wat gebaseer is op die ware verhaal van ʼn vrou op die Kaapse Vlakte wat haar dwelmverslaafde seun vermoor het.

Die Stropers, geskryf deur Etienne Kallos, is bekroon met die toekenning vir beste kinematografie (Michal Englert) en beste klankontwerp en musiek (Evgueni en Sacha Galperine, Leandros Ntounis, Thomas Robert en Jean-Guy Veran).

Katinka Heyns. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Katinka Heyns. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die aktrise en regisseur Katinka Heyns is met ʼn Silwerskermlegende-toekenning vir haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf vereer. Die regie van die Afrikaanse rolprente soos Paljas, Die storie van Klara Viljee en die rolprentweergawe van Dalene Matthee se Fiela se Kind is deur dié bekroonde regisseur behartig.

Nosipho Dumisa, regisseur van die vollengte fliek Nommer 37, wat in Junie vanjaar op die grootskerm gedraai het, is ook vereer met ʼn spesiale Silwerskermlens-toekenning vir die uitstaande prestasie wat dié rolprent in die buiteland behaal het.

Die kortflieks het nie agterweë gebly nie en vanjaar was dit die 22 minute-kortfliek, Axis Mundi, met Antoinette Louw, Deon Lotz en Mila Guy, wat die toekennings ingeryg het. Dié kortfliek is aangewys as beste 22 minute-kortfliek, terwyl Matthew Jankes en Sean Steinberg vereer is as beste regisseurs en beste draaiboek vir dié rillerprent.

Die kortfliek Die leeftyd van ʼn orgidee is twee keer vereer. Mari Borstlap is met die beeldjie vir beste regisseur van dié 11 minute-kortfliek huis toe en die fliek is ook aangewys as beste 11 minute-kortfliek.

Cowboy Dan, die kortfliek wat handel oor ʼn motorwag wat homself verbeel hy is ʼn cowboy in die Wilde Weste, is aangewys as die wenner vir beste redigering van ʼn kortfliek (Alexander la Cock). Brendon Daniels is aangewys as beste akteur in ʼn kortfliek vir sy rol as Dan.

Cindy Swanepoel is aangewys as beste aktrise in 'n kortfliek vir 'Fluit Fluit'. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Cindy Swanepoel is aangewys as beste aktrise in ‘n kortfliek vir ‘Fluit Fluit’. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Cindy Swanepoel, wat die rol van die fluitende predikantsvrou Ryne de Beer in die 22 minute-kortfliek Fluit Fluit gespeel het, is as beste aktrise in ʼn kortfliek aangewys vir dié rol.

Milan Murray, aktrise en kinderboekskrywer, is vereer met die toekenning vir beste draaiboek vir die 11 minute-kortfliek Kromkieriefontein, wat op een van haar kinderverhale gebaseer is.

Johannes Pieter Nel is met die beeldjie vir beste tegnies op ʼn kortfliek huis toe vir Benjamin.

“Ek is dankbaar dat ek nie op die toekenningspaneel was nie, omdat die gehalte van die benoemde werk so goed was!” het Karen Meiring, M-Net direkteur vir kykNET-kanale, na afloop van die geleentheid gesê.

“ʼn Nuwe standaard is gestel, en hiermee wil ons vir die rolprentmakers van volgende jaar sê: ‘Kom, daag ons uit!’ Baie geluk aan al die wenners.”

Die kortflieks gaan vanaf 1 November beskikbaar wees op die DStv-platform Showmax.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners:

Kortflieks:

Beste kortfliek (11 minute) – Die leeftyd van ʼn Orgidee
Beste kortfliek (22 minute) – Axis Mundi
Beste regisseur: Kortfliek (11 minute) – Marí Borstlap, Die leeftyd van ʼn Orgidee
Beste regisseur: Kortfliek (22 minute) – Matthew Jankes & Sean Steinberg, Axis Mundi
Beste akteur: Kortfliek – Brendon Daniels, Cowboy Dan
Beste aktrise: Kortfliek – Cindy Swanepoel, Fluit Fluit
Beste draaiboek: Kortfliek (11 minute) – Milan Murray, Kromkieriefontein
Beste draaiboek: Kortfliek (22 minute) – Matthew Jankes en Sean Steinberg, Axis Mundi
Beste redigering: Kortfliek – Alexander La Cock, Cowboy Dan
Beste tegnies: Kortfliek – Johannes Pieter Nel: Kinematografie, Benjamin

Vollengte flieks:

Beste kinematograaf – Michal Englert, Die Stropers
Beste produksie-ontwerp – Rocco Pool, Kanarie
Beste klankontwerp en musiek – Evgueni en Sacha Galperine, Leandros Ntounis, Thomas Robert en Jean-Guy Veran, Die Stropers
Beste redigering – Eva Du Preez, Kanarie
Beste draaiboek – Amy Jephta, Ellen, Die Storie van Ellen Pakkies
Beste vroulike byspeler – Cintaine Schutte, Die Seemeeu
Beste manlike byspeler – Germandt Geldenhuys, Kanarie
Beste aktrise – Jill Levenberg, Ellen, Die Storie van Ellen Pakkies
Beste akteur – Jarrid Geduld, Ellen, Die Storie van Ellen Pakkies
Beste regisseur – Christiaan Olwagen, Kanarie
Beste vollengterolprent – Kanarie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.