[Foto’s] Spoggeleentheid vir ‘Sy klink soos lente’ in Johannesburg

Amalia-Uys-en-Stiaan-Smith

Amalia Uys en Stiaan Smith vertolk die hoofrolle van Linda en Ben. Foto: Maroela Media

Die span van Sy klink soos lente, die romantiese komedie deur Bouwer Bosch Films en The Film Factory, het Woensdagaand in hul volle glorie saamgetrek vir die Johannesburgse première van dié splinternuwe rolprent.

Akteurs soos Amalia Uys (Linda), Stiaan Smith (Ben), Bennie Fourie (JJ), en Wilson Dunster (oom Fanie) het by The Good Luck Bar op die grastapyt in hulle aanddrag gepryk. Die hoofvervaardiger van die fliek, Bouwer Bosch, het ook gesig gewys saam met sy vrou, Leandie du Randt Bosch.

Benewens sy hoofrol as Ben, het Stiaan ook die draaiboek behartig. “Fliekgangers gaan verskeie emosies ervaar wanneer hulle na Sy klink soos lente kyk,” het hy vroeër vanjaar aan Maroela Media gesê. “Dit is ʼn storielyn waarmee mense hulle kan vereenselwig. Die werktuigkundige raak verlief op die grênd girl, en omdat sy so vreeslik fênsie is, voel hy dat hy nie goed genoeg is vir haar nie,” het Stiaan vertel. “Hy begin dan ʼn band om haar te beïndruk, maar natuurlik sal sy dit later uitvind.”

Die fliek, wat eers op 30 September landswyd in fliekteaters begin draai, word op Saterdag 17 September eksklusief tydens Maroela Media en attooh! se Buitebioskoop in die Pretoria botaniese tuin vertoon.

“Ek dink dit is belangrik dat mense projekte soos die Buitebioskoop ondersteun, want ons as akteurs het ʼn passie vir stories en flieks, en ons kry min geleenthede om die ervaring meer persoonlik te maak en die fliek na die mense toe te vat,” sê Bouwer. “Geleenthede soos die Buitebioskoop maak dit vir mense moontlik om met ons te kom gesels en vir ons vrae te vra oor die vermaak- en skryfbedryf,” vertel hy verder.

Kaartjies vir die Buitebioskoop is hier beskikbaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.