Foto’s: Sterre van ‘Vergeet my nie’ vier première in ware 90’s-styl

Marguerite van Eeden vertolk die hoofrol van Mardaleen Derks in ‘Vergeet my nie’. Haar kêrel, Danie du Toit, het saam met haar die première vir die fliek bygewoon. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die sterre van die lankverwagte fliek Vergeet my nie het Donderdagaand by The Zone @ Rosebank in Johannesburg byeengekom vir die première van dié romantiese rolprent.

Die fliek word op 14 Februarie in fliekteaters landwyd uitgereik. Sean-Marco Vorster, Marguerite van Eeden, Pietie Beyers, Kenley Swart, Arno Greeff, Elani Dekker en Amalia Uys, wat almal in die fliek te sien is, het ʼn draai by die première kom maak.

Vergeet my nie is vervaardig deur The Film Factory in samewerking met Huisgenoot en kykNET Films en die regie is behartig deur André Velts. Dit fliek is geskoei op die ware liefdesverhaal van Mardaleen en Hugo Derks, twee mense wie se romanse ʼn stormagtige draai maak in Potchefstroom, Namibië en Londen.

Die Derks-egpaar het ook die première al die pad van Namibië af bygewoon. Die rol van Mardaleen word vertolk deur Marguerite van Eeden, wat saam met haar kêrel, die musikant en skrywer Danie du Toit van die groep Spoegwolf, die geleentheid bygewoon het.

Die fliek speel in die laat 90’s af en vertel die verhaal van Mardaleen, ʼn gekultiveerde student wat vasgekeer voel in Potchefstroom en smag na die liggies en kultuur van Londen. Ná die aaklige verbrokkeling van haar verhouding pak sy haar tasse en vertrek na haar droomstad saam met haar beste vriendin, Lara, vertolk deur Kenley Swart.

Hulle woon in Huis Konettie, saam met vyf ander Suid-Afrikaners wat in Londen werk. ʼn Onverwagse romanse ontstaan tussen Mardaleen en haar Namibies gebore huismaat, Hugo, vertolk deur Sean-Marco Vorster. Dit voel egter te goed om waar te wees en die oomblik wanneer dinge te ernstig raak en nie heeltemal verloop soos sy beplan nie, laat sy haar onsekerhede en vrese oorspoel in haar verhouding. Sy hardloop weg en gaan huis toe.

Mardaleen en Hugo se romanse vlam weer op wanneer hulle twee jaar later mekaar teëkom, gevolg deur ʼn uitnodiging van Hugo aan Mardaleen om vir hom in Namibië te gaan kuier. Haar naweek in Namibië ontaard in ʼn nagmerrie. Afgesien daarvan vra Hugo haar om te bly en ʼn nuwe lewe saam met hom te bou, maar sy het ander planne en is hardkoppig.

Amalia Uys het gesê dit was ʼn wonderlike ervaring om aan die fliek te werk aangesien die span na Londen en Namibië gereis het om die fliek te skiet.

“Dit was so lekker om aan ʼn produksie te werk waar ons die geleentheid kon kry om oorsee te gaan. Dit was groot pret en die rolverdeling behels ʼn lieflike klomp jong mense en sommige van hulle ken ek. Ek en Pietie het al aan ʼn paar produksies saamgewerk; ek is mal oor sy energie en hy is vir my histeries snaaks,” het sy vertel.

Mardaleen en Hugo Derks het ʼn “sagte plekkie” vir die akteurs van die fliek. “Dít is iets wat ons gaan deel vir die res van ons lewe en ek moet sê toe ons vir Sean-Marco en Marguerite op die stel in Namibië ontmoet het, het ons dadelik van hulle gehou. Ek en Hugo het albei gevoel ons kan nou maar ontspan, want ek sien van myself in Marguerite en hy sien van homself in Sean-Marco – en dis regtig twee plat op die aarde, onopgesmukte mense.”

Vergeet my nie begin op 14 Februarie in fliekteaters landwyd draai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae