Frank Opperman ontgin in ‘Dominee Tienie’

ʼn Drastiese daling in kerkbywoning is wêreldwyd ʼn redelik algemene verskynsel en die rol van predikante in ons vinnig veranderende wêreld is een van die belangrikste temas van die rolprent, Dominee Tienie.

Frank Opperman, die bekroonde akteur, speel in hierdie nuwe rolprent die hoofrol met net soveel oortuiging as wat hy dié rol in die gelyknamige eenmanvertoning, wat deur Dana Snyman geskryf is, op die verhoog vertolk het.

Die rolprent vertel die storie van ʼn predikant wat sy selfvertroue moet terugkry as hy weer die ligstraal wil wees wat hy eens op ʼn tyd vir almal om hom was. Na 16 jaar in diens van die moedergemeente, word dominee Tienie gekonfronteer met ʼn skerp daling in die aantal gemeentelede en hy moet ʼn moderne samelewing wat baie vinnig verander, trotseer. Is hy dapper genoeg om sy gemeente in hierdie nuwe era te lei?

“Die idee van ’n Afrikaanse predikant wat tot die besef kom dat hy die pad byster geraak het en nie meer weet waar hy in die moderne samelewing waarin hy hom bevind pas nie, het my gefassineer,” vertel Sallas de Jager, regisseur en medeskrywer van Dominee Tienie.

“Dit was vir my ʼn voorreg om hierdie spreekwoordelike heilige grond te betree ‒ want dit is hoe ek gevoel het toe ek een van die suksesvolste toneelstukke nog, wat deur een van die mees geliefde Afrikaanse skrywers, Dana Snyman, geskryf is, vir die groot skerm moes aanpas.”

Volgens De Jager sal die rolprent gehore nie net vermaak nie, maar ook uitdaag. “Dit sal beslis ook aan kykers die geleentheid bied om van Suid-Afrika se voorste akteurs en tegnici op hulle beste te ervaar.”

Tienie wonder of predikante nog ʼn rol het om in vandag se wêreld te speel en het die kerk nog ʼn rol om te speel? Hy doen alles in sy vermoë om by die veranderinge aan te pas en dit te verstaan, maar in die proses raak hy van sy vrou en kinders vervreem. Na ʼn voorval met ʼn sterwende swerwer (Carel Nel) bevind dominee Tienie hom by ʼn kruispad. Sal hy weer sy selfvertroue herwin en sy gesin se liefde terugwen en is hy dapper genoeg om sy gemeente in hierdie nuwe era te lei?

Die span van 'Dominee Tienie' verlede jaar tydens die Silwerskermfees in Kampsbaai. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die span van ‘Dominee Tienie’ verlede jaar tydens die Silwerskermfees in Kampsbaai. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Die prent ondersoek ʼn onderwerp wat na aan die harte van baie Suid-Afrikaners lê,” sê Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution, deur wie die fliek versprei word.

“Vir gemeentes om gelowiges te behou in ʼn wêreld waar mense ander professionele persone oor hulle probleme raadpleeg, plaas die kollig op die dilemmas van die moderne predikant. Die predikant was vroeër die eerste persoon na wie mense hulle gewend het as hulle probleme het. Vandag kan hulle ondermeer sielkundiges, psigiaters, huweliksberaders en dokters raadpleeg. Hierdie faktore lei daartoe dat dominee Tienie die relevansie van sy roeping bevraagteken en hierdie tipe rol pas perfek by ʼn meesterlike akteur soos Opperman.”

Dominee Tienie ondersoek ook die innerlike wêreld van ʼn man wat worstel met veranderende tye terwyl sy eie middeljarekrisis hom in die gesig staar.

Vir Opperman was hierdie nog ʼn rol waarmee hy ʼn onvergeetlike alter ego kon skep, iets waarvoor hy bekend geword het: van Ouboet in Orkney Snork Nie wat almal gelukkig wou hou, die skelm Chris Karedes in The Big Time tot Koos Andries Koekemoer in Gauteng-a-Leng.

Die rolverdeling sluit in Henriëtta Gryffenberg, Thapelo Mokoena, Regardt van den Bergh, Deon Lotz, Paul Eihlers en Annette Engelbrecht.

Dominee Tienie begin op 25 Januarie 2019 in teaters landwyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SANDRA ·

Baie dankie vir die geleentheid om die voorskou van die fliek saam met julle te kon sien.
Dit is ‘n eye opener.

Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.