‘Frozen 2’ tref loket soos ʼn sneeustorm

(Foto: Disney via AP)

Frozen 2, die opvolgfliek van die uiters gewilde animasierolprent met geliefde karakters soos Anna, Elsa en Olaf, het die afgelope naweek skoonskip gemaak by die loket.

Die rolprent het na raming sowat $350,2 miljoen (sowat R5 miljard) in sy openingsnaweek wêreldwyd ingevorder.

Dié opvolgfliek van die eerste rolprent wat in 2013 ʼn gunsteling by kykers van alle ouderdomme reg oor die wêreld was, het talle loketrekords laat spat.

Associated Press berig Frozen 2 het nie net wêreldwyd die grootste inkomste vir ʼn animasiefliekdebuut by die loket gehad nie, maar het ook die grootste openingsgeleentheid van enige fliek wat tot dusver deur Walt Disney Animation Studios uitgereik is, beleef.

Met sy trefferliedjie, “Let it Go”, ʼn legio Frozen-speelgoed, Elsa-rokke en selfs ʼn Broadway-musiekspel, het die oorspronklike fliek vinnig in ʼn sensasie ontwikkel, en was dit vir 17 weke lank op die top-10-lys vir flieks by die loket. Die rolprent het uiteindelik sowat $1,27 miljard (R19 miljard) ingevorder.

Die oorspronklike fliek het ook twee Oscar-toekennings gekry vir onderskeidelik beste animasierolprent en beste oorspronklike liedjie.

Volgens Cathleen Taff, verspreidingshoof van Disney, sal dit nie maklik wees vir Frozen 2 om kers vas te hou vir die eerste fliek wat rand en sent betref nie, maar sy hou vol dat Frozen 2 ʼn goeie kans het om naby daaraan te kom.

“Ons sien uit daarna dat die fliek goed sal doen by die loket, gegewe dat dit een van die dae skoolvakansie is,” het Taff gesê.

Hoewel resensies en kykerreaksies vir Frozen 2 goed tot dusver positief is, is dit nie so gunstig as vir die oorspronklike fliek nie. Die CinemaScore is A- vir Frozen 2, waar Frozen ʼn A+ gekry het. Kritici was ook minder gaande oor die opvolgfliek en het hy op Rotten Tomatoes ʼn punt van 75% gekry teenoor die eerste fliek se 90%.

ʼn Groot groep talentvolle akteurs in die eerste fliek se stemme is weer in die opvolg te hoor. Idina Menzel en Kristen Bell is weer in die rolle van Elsa en Anna en Josh Gad is weer die stem van Olaf, die sneeuman.

Idina Menzel en Kristen Bell is onlangs vereer met sterre op die Hollywood Walk of Fame in Los Angeles. (Foto: Instagram/Idina Menzel)

Menzel en Bell is ook onlangs gesamentlik vereer met sterre op die gesogte Hollywood Walk of Fame in Los Angeles in die VSA. Volgens Good Morning America het Bell die gehoor laat skater tydens haar toespraak toe sy verduidelik het hoe sy gevoel het die eerste keer toe sy vir Menzel hoor sing het.

“Toe ek haar [Menzel] vir die eerste keer hoor sing, het ek ʼn nuutheid beleef soos nog nooit tevore nie. Soos ʼn baba wat sopas reën vir die eerste keer beleef het,” het Bell gesê en na ʼn giggelende Menzel gedraai. “Het jy geweet dit is hoe mense voel die eerste keer dat hulle jou hoor sing?” het sy gevra.

Frozen 2 word op 6 Desember in fliekteaters in Suid-Afrika uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yippie ·

Lekker. Ek is gek oor goeie animasie. En frozen 1 was nie sleg gewees nie. Olaf te oulik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.