Geliefde Britse komedie Kerstyd terug in SA fliekteaters

Hugh Grant en Martine McCutcheon in ‘Love Actually’. (Foto: Facebook/Love Actually Film)

Kersfees kom vanjaar vroeg vir aanhangers van die gewilde Britse romantiese komedie Love Actually.

ʼn Nuwe verwerking van dié klassieke Kersfeesrolprent sal van 15 Desember af vir ʼn week in uitgesoekte Ster-Kinekor‑teaters te sien wees teen slegs R50 per kaartjie.

StudioCanal en Universal Pictures stel dié 2003-fliek weer wêreldwyd vry ter viering van sy 20ste herdenking.

Die vertonings vorm ook deel van Ster‑Kinekor se Throwback Cinema-veldtog – waar hulle tydlose treffers weer vir beperkte tye na die grootskerm terugbring.

Richard Curtis, wat die draaiboeke vir flieks soos Four Weddings and a Funeral, Notting Hill en Bridget Jones’ Diary geskryf het, het sy regisseursdebuut met Love Actually gemaak.

Dit vertel die verhaal van agt paartjies en hulle liefdesverhale en teleurstellings tydens Kerstyd in Brittanje.

Bekendes soos Hugh Grant, Emma Thompson, Liam Neeson, Laura Linney, Colin Firth en Keira Knightley is daarin te sien.

Love Actually was destyds wêreldwyd ’n lokettreffer en het deur die jare ’n geliefde moderne Kersfeesrolprent geword.

Die fliek sal by hierdie teaters vertoon word:

  • Brooklyn Mall en The Grove Mall in Pretoria.
  • Eastgate Mall en Rosebank Cinema Nouveau in Johannesburg.
  • Gateway Mall en Shelly Beach Mall in KwaZulu-Natal.
  • Garden Route Mall in George.
  • Somerset Mall in Somerset-Wes, asook by die Tygervallei-winkelsentrum en die V&A Waterfront in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.