‘Gerrie’ op die silwerskerm

Argieffoto.

Boksgeesdriftiges in Suid-Afrika en Amerika kan uitsien na Gerrie, ’n rolprent oor die avonture van Suid-Afrika én Afrika se eerste swaargewig-bokskampioen, Gerrie Coetzee.

Die première sal aan die einde van die jaar in Johannesburg en Washington vertoon word.

“Ons navorsing het getoon dat Coetzee gewild was in Amerika en dit is weer eens onderstreep toe hy in 2017 tydens die Hollywood and African Prestigious Awards in Los Angeles vereer is,” het David Hartquist, ’n Amerikaanse rolprentvervaardiger, gesê.

“Dié toekenning het ’n mens laat terugdink aan die ongelooflike aand in September 1983, toe Coetzee basies as onbekende vir Michael Dokes in Ohio uitgeslaan het om met die swaargewig-wêreldtitel weg te stap.”

Ná die Dokes-geveg het Coetzee nog ’n hele paar keer in Amerika geboks, waaronder in die Hollywood Palladium en in Sacramento se Acro-arena.

In die apartheidsera het hy ook opslae gemaak deur ’n swart kind aan te neem en ’n Indiese sakeman as sy woordvoerder aan te stel.

“Die storie beskik oor al die kenmerke van ’n uitstekende boksrolprent. Dit sal hulde aan Coetzee se welslae in die kryt, sy nederigheid en sy moed bring. Hy is eintlik net ’n baie goeie mens.

 

Gerrie Coetzee (links) en Pierre Coetzer. Foto: ANA.

“Gerrie se unieke prestasie was dat hy Afrika se eerste swaargewig-wêreldkampioen was. Dit vind ongetwyfeld aanklank by gehore in Amerika en hy is beslis ’n herkenbare figuur hier.”

Coetzee was ook een van Nelson Mandela se gunstelingboksers.

Gedurende sy tyd op Robbeneiland kon die voormalige Suid-Afrikaanse staatspresident, wat self ’n amateurbokser in sy jonger dae was, soms na uitsendings van Coetzee se gevegte luister. Ná sy vrylating het Coetzee vir Mandela by die Carlton-hotel in Johannesburg ontmoet.

Die verfilming sal Aprilmaand in Johannesburg begin met die Suid-Afrikaanse regisseur, Koos Roets, aan die stuur van sake. Verskeie plaaslike akteurs sal ook deel van die aksie wees.

  • Coetzee het in 40 gevegte 33 keer gewen en net ses keer verloor. Hy het 21 keer sy gevegte met uitklophoue gewen en het onder andere ook vir Leon Spinks uitgeslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.