Groot Oscar-hoop vir moderne Western

Neil Sandilands (heel links) saam met Tom Hanks, Winsome Brown, Helena Zengel (voor) en regisseur Paul Greengrass. (Foto: Dariusz Wolski/Facebook)

Terwyl die plaaslike rolprentvervaardigers van My Octopus Teacher vir ʼn Oscar-toekenning benoem is in die kategorie vir beste dokumentêr, swel nóg ʼn Suid-Afrikaner se bors van trots oor dié gesogte goue beeldjies wat later vanjaar uitgedeel word.

Neil Sandilands, die Suid-Afrikaanse musikant en akteur wat destyds op eie bodem bekendheid verwerf het in die SABC2-sepie 7de Laan, die reekse Soutmansland en Orion, is te sien in die internasionale rolprent News of the World, met Tom Hanks en Helena Zengel in die hoofrolle.

News of the World is vir vier Oscars benoem in die kategorieë vir beste oorspronklike klankbaan, beste kinematografie, beste stelontwerp en beste klank.

“Mag ek met dankbaarheid en nederigheid sê dit is ʼn trotse oomblik vir my om dít te skryf,” het Sandilands op Facebook geskryf.

“Dit het verkeerd gevoel om dit vir myself te hou. Hierdie loopbaan-stokperdjie het my na die mees onverwagte mense, plekke en eienaardighede gelei. Ek sal dit weer kies.”

Riz Ahmed vir Sound of Metal, Chadwick Boseman (postuum) vir Ma Rainey’s Black Bottom, Anthony Hopkins vir The Father, Gary Oldman vir Mank en Steven Yeun vir Minari is in die kategorie vir beste akteur benoem.

Zengel is vir ʼn Golden Globe- en Screen Actors Guild- (SAG-)toekenning benoem vir beste aktrise in ʼn ondersteunende rol.

Sandilands vertolk die rol van oom Wilhelm Leonberger in die fliek. Hy het ook in die plaaslike rolprente Jakhalsdans (2010), Die laaste tango (2013), Musiek vir die agtergrond (2013) en Die Ballade van Robbie de Wee verskyn.

Hy is tans te sien as Bernoldus in die rillerreeks Dam teenoor Lea Vivier, Pallance Dladla en Laudo Liebenberg. Die reeks is te sien op Showmax.

Hoewel daar gefluister is dat Tom Hanks moontlik sy sewende Oscar-benoeming vir sy rol in dié Western sou losslaan, is hy nié vanjaar benoem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Windhond ·

Wonder was daar ooit n wildeweste fliek geskiet hier in ons land?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.