Grootskerm: Die Windpomp

Die nuwe plaaslike rolprent "Die Windpomp" begin op 25 April in teaters draai. Foto: Die Windomp Film Facebook-blad

Die nuwe plaaslike rolprent “Die Windpomp” begin op 25 April in teaters draai. Foto: Die Windomp Film Facebook-blad

ʼn Lokprent en video van ʼn gesprek met die akteurs en regisseur van Die Windpomp volg onderaan die berig.

ʼn Eksentrieke tiener Hendri (Armand Greyling) word verplig om by sy oupa in ʼn aftreeoord te gaan bly, maar dit is nie ʼn alledaagse aftreeoord nie…

Sodra Hendri intrek, klop die oorywerige buurvrou, tannie Marietjie (Marga van Rooy) vinnig aan sy deur om hom te verwelkom. Hendri volg een aand laat ʼn paar van die bejaardes in die bos in waar tannie Marietjie en die ander inwoners in ʼn dam baljaar. In die middel van die dam staan ʼn windpomp. Dit is ook waar Hendri die sjarmante en avontuurlistige Margot (Leandie du Randt) ontmoet.

Kort voor lank kom Hendri egter agter alles is nie pluis met dié aftreeoord en sy inwoners nie.

Die Windpomp wyk bietjie af van die tipiese romantiese komedies wat die afgelope paar jaar die lig gesien het. Etienne Fourie (skrywer en regisseur) gee vir die gehoor ʼn verfrissende kykie na die liefde en konfronteer die mensdom se vrees vir oud word. Fourie vertel dit is juis sy eie vrees vir oud word wat as inspirasie vir die karakters gedien het. “Ek is bang ek kom op ʼn punt waar ek spyt is oor dinge, maar nie regtig enige iets daaroor kan doen nie. Wanneer jy jonk is, moedig jou lyf jou aan om vinniger te gaan en beter te doen, maar soos jy ouer word verraai jou lyf jou,” het hy verduidelik.

Met ʼn vars storielyn en karakters, puik kamerawerk en klankbaan, is Die Windpomp ʼn nuwe vlak vir die Afrikaanse rolprentbedryf.

Ian Roberts en Grethe Fox is van die ander bekendes wat in die rolprent te sien is.

Die Windpomp begin op 25 April by teaters draai.

Maroela Media het met die span van Die Windpomp gesels. Kyk gerus die video hieronder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Chantelle ·

ek het nie die fliek gevang was baie deurmekaar. hoe kom die storielyn bymekaar wat hendri en sy oupa aanbetref, want soos ek afgelei het is hulle eintlik een mens ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.