Grootskerm: Konfetti

Nico Panagio, Louw Venter en Casey B. Dolan is in die nuwe plaaslike rolprent "Konfetti" te sien wat 17 April by teaters begin draai.

Nico Panagio, Louw Venter en Casey B. Dolan is in die nuwe plaaslike rolprent “Konfetti” te sien wat 17 April by teaters begin draai.

ʼn Lokprent van Konfetti en ʼn gesprek met Jana Strydom volg onderaan die berig

ʼn Troue is iets waarmee almal hulle kan vereenselwig. Elkeen van ons het al ʼn troue as ʼn gas, blommemeisie, vriend of familielid bygewoon (of is self getroud). Ons almal ken troues en weet hoe dit gaan.

Dit is presies waar die nuwe Suid-Afrikaanse rolprent Konfetti afspeel: by ʼn troue. Die rolprent is gebaseer op ʼn eenmanverhoogstuk  deur Louw Venter. Venter is weer in die rolprent te sien.

In Konfetti staan die Afrikaanse Jean (Nico Panagio) en die Joodse Sheryl (Casey B. Dolan) op trou. Die strooijonker, Lukas (Venter), is verantwoordelik vir sommige van die troureëlings, onder meer die musiek. Lukas raak egter aan ‘t drink en vergeet om die orkes te bespreek. Op die nippertjie roep hy die hulp in van Bianca (Kim Engelbrect) – ʼn ou vyand van die bruid. Te midde van die gewone spanning wat met ʼn troue gepaard gaan, probeer Lukas vervaard red wat te redde is.

Hoewel dié onafhanklike rolprent eers 17 April by teaters in Suid-Afrika te sien is, is dit reeds goedgekeur om vertoon te word by twee internasionale filmfeeste: die Internasional Beverly Hills Film Festival (BHFF) en die Julien Dubuque International Film Festival.  Albei feeste vind later in April in die VSA plaas.

Zaheer Goodman-Bhyat, die regisseur en vervaardiger, sê hy is ongelooflik trots op almal wat betrokke was by die maak van die rolprent. “Ek en Louw het vir jare hard gewerk om ʼn rolprent te vervaardig waarop ons kan trots wees. Om internasionale erkenning te kry met ons Afrikaanse rolprente is ʼn groot prestasie, nie net vir Afrikaanse rolprente nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.”

Buiten die twee filmfeeste waarvoor die film goedgekeur is, het die aktrise Casey B Dolan, wat ook in Konfetti te sien is, ʼn nominasie vir beste aktrise by die die Julien Dubuque International Film Festival ontvang.

Ander bekendes wat in die rolprent te sien is, is Casper de Vries, Nico Panagio, Kim Engelbrecht en Jana Strydom.

Maroela Media/TV het met Jana Strydom gesels oor haar rol en waaroor Konfetti gaan.

Konfetti begin 17 April by teaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Lorene ·

Dit was vir my `n baie goeie fliek. Ek was net half teleurgesteld dat ons oh my Lord, oh my God gebruik. Is ons nie beter as party Amerikaners nie. Ek sou nie graag wil hê sulke dinge moet goeie flieks sleg maak nie is erg genoeg dat ons dit in amerikaanse flieks moet beleef. Ek hou van `n goeie afrikaanse fliek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.