‘Hans steek die Rubicon oor’ word ʼn fliek

June van Merch as Baby, Sandra Prinsloo as Liesbet, Tobie Cronjé as Vasie en Pierre van Pletzen as Hans in die fliek, ‘Hans steek die Rubicon oor’. (Foto: Verskaf)

Die verfilming van Rudie van Rensburg se trefferboek Hans steek die Rubicon oor het verlede week in Kaapstad begin.

Hans steek die Rubicon oor vertel die verhaal van Hans van Kraaienburg, ʼn hupse 90-jarige man wie se lewe omvergewerp word wanneer hy gedwing word om na Huis Madeliefie-ouetehuis te trek.

Huis Madeliefie is verkramp en sy kamertjie is piepklein, en dan word Hans boonop gedwing om verskeie reëls en regulasies te gehoorsaam.

Met Hans in die omtrek kan jy egter net sports verwag en kort voor lank is daar ʼn ouetehuis-opstand, daggakoekies en ontkleedansers, alles as deel van Hans se “oudword op eie terme”.

Die regisseur Corné van Rooyen, wat bekend is vir die flieks Hollywood in my huis en Vaselinetjie, asook die gewilde TV-reeks Alles Malan, sê hy is opgewonde oor dié produksie.

“Daar is soveel druk in die samelewing om jonk te bly dat ek opgewonde is om die ander kant te wys,” sê hy.

“Ek wil wys hoe ‘oud word op eie terme’ gevier kan word en baie opwindend kan wees. Dit is ook ʼn groot voorreg om saam met van Suid-Afrika se grootste veteraan-akteurs te werk om werklik Rudi se boek tot lewe te bring.”

Die rolverdeling sluit akteurs in soos Pierre van Pletzen as Hans, Tobie Cronjé as Vasie, June van Merch as Baby, Sandra Prinsloo as Liesbet en Nicola Hanekom as die drakoniese Matrone. Diaan Lawrenson is Karla en die nuweling Juan-Pierre Moller is Esmuraldus.

Die rolprentweergawe van Hans steek die Rubicon oor word in samewerking met René van Rooyen en Tascha van der Westhuizen van Letter Pictures en kykNET vervaardig.

Kykers sal egter nog ʼn rukkie moet wag, want dié rolprent sal na verwagting eers in 2023 te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delene ·

Agge Nee! Hoekom vertolk Tobie Cronje nie die rol van Hans nie?! Dis dan immers Tobie Cronje se sterk vertolking van Hans in die radio vervolgverhaal, wat die karakter so super suksesvol gemaak het!

B-Man ·

Sy Vasie was ook maar uitstekend. Hy kan immers nie al die rolle vertolk op die silwerskerm nie, Delene. Ek sal beslis hierdie fliek kyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.