Hibriede formaat vir vanjaar se Silwerskermfees

Suid-Afrikaanse fliekliefhebbers kan vanjaar behoorlik saam met die kykNET Silwerskermfees fees vier. Dié fees vind vanjaar by die Bay-hotel in Kampsbaai, Kaapstad, asook virtueel op die Silwerskermfees-webwerf plaas.

Vanjaar se feesprogram sluit nege rolprente in wat sal meeding om die gesogte Silwerskermfees-toekennings asook 17 kortflieks, wat met die ondersteuning van kykNET en die Silwerskermfees vervaardig is.

Registrasies vir die virtuele fees het gister (Donderdag) op die fees se webwerf geopen. Die registrasiegeld beloop R190 en die inkomste hieruit sal aan die Tribuo-fonds, wat in die lewe geroep is om vermaaklikheidskunstenaars wat as gevolg van die Covid-19-pandemie in geldelike nood is, by te staan.

Benewens die speel- en kortflieks sal gehore wat die fees in Kampsbaai of virtueel bywoon, talle bedryfsgesprekke kan meemaak.

Daar sal ook vraag-en-antwoordsessies met die vervaardigers en sterre van die rolprente wees ná afloop van die vertoning van elke speelrolprent. Voorts sluit die program ʼn aantal vars bestaande films in wat nog nie wyd in Suid-Afrika versprei is nie.

kykNET se tiende Silwerskermfees word vanaf 23 tot 26 Maart 2022 aangebied.

Speelrolprente

Hoewel die speelrolprente in die kompetisie tydens vorige Silwerskermfeeste uitsluitlik rolprente was wat hul wêreld- of Suid-Afrikaanse debuut op die fees gemaak het, sluit vanjaar se program ook rolprente in wat deur kykNET en M-Net befonds is, maar wat reeds in teaters of op DStv se BoxOffice uitgereik is omdat die fees verlede jaar weens die pandemie uitgestel moes word.

Dié drie rolprente is Kaalgat Karel, Klein Karoo 2 en Barakat, vanjaar se amptelike Suid-Afrikaanse inskrywing vir die Oscar-toekennings in die kategorie vir beste internasionale rolprent. Dié drie rolprente sal voor die fees amptelik afskop op die Silwerskermfees-webwerf te sien wees op onderskeidelik 3, 10 en 17 Maart.

Die fees se hibriede speelfilmprogram tussen 23 en 26 Maart bestaan uit die volgende flieks:

Beurtkrag – 23 Maart om 17:30

Beurtkrag se wêreldpremière is op die fees. Vir dié blinknuwe speelfliek het die glanspaartjie Ivan Botha en DonnaLee Roberts kragte saamgesnoer met regisseur Jozua Malherbe (Griekwastad) om die draaiboek van die gelyknamige 2015 Silwerskermfees-kortfliek tot ’n vollengte rolprent te verwerk.

Indemnity – 23 Maart om 20:00

Travis Taute se senutergende aksiefliek spog met ’n fantastiese rolverdeling, met onder andere Gail Mabalane en Hlomla Dandala. En Jarrid Geduld lewer ’n kragtoer as ’n brandweerman wat op die vlug slaan wanneer hy van die moord op sy vrou verdink word.

Indemnity het reeds op internasionale stroomdienste gehore gaande gehad en kritici het die puik kinematografie en spesiale effekte lof toegeswaai.

Down So Long – 24 Maart om 17:30

Down So Long is ’n eksperimentele satiriese komedie-drama wat draai om Joseph Mabena. Hy woon saam met sy vrou en hul uitgebreide familie in ’n oorvol huis in die informele nedersetting Hangberg, waar almal gedurig onder mekaar se voete is en almal alles van mekaar weet.

Angie Mills (regisseur) en Damir Rodonic (vervaardiger) het die storie so outentiek moontlik vertel deur slegs van twee professionele akteurs gebruik te maak. Die res van die rolverdeling kom uit die Hangberg-gemeenskap.

Stiekyt – 24 Maart om 20:00

’n Vorige Silwerskermfeeswenner Etienne Fourie, wat ná sy bekroning vir Die windpomp ook feesgehore bekoor het met Dis koue kos, skat en Liewe Kersfeesvader, is in die regisseurstoel vir dié riller. Stiekyt is vervaardig deur Homebrew Films, wat vir hul puik televisieprogramme bekend is.

Vlugtig – 25 Maart om 17:30

Nes Beurtkrag is Vlugtig ’n verwerking van ’n Silwerskerm-kortfliek. Vir Vlugtig, die speelfilm, is dieselfde regisseur, Marinus Gubitz, aan die stuur van sake. Talle spelers wat in die kortfliek te siene was, is weer op die skerm, maar dié keer is die talentvolle Jane de Wet ook deel van die rolverdeling.

De Wet, bekend om haar rolle in Showmax se The Girl from St. Agnes en kykNET se Spoorloos: Steynhof het in 2019 die Silwerskerm-toekenning vir mees belowende jong ster verower vir haar spel in Griekwastad.

Gaia – 25 Maart om 20:00

Gaia is die eerste ekologiese gruwelfliek in Afrikaans. Sedert dit in Maart verlede jaar by die hoog aangeskrewe South by South West-fees in die VSA gedebuteer het, het dié grensverskuiwende rolprent wêreldwyd lof in entoesiastiese resensies ontvang.

Gaia het Variety se gesogte Top-15 Horror Movies-lys vir 2021 gehaal en is ook op die ign.com-top-13-lys en die Forbes-top-10 ingesluit. Gaia het verskeie internasionale toekennings by prestige-ryke rolprentfeeste opgeraap, waaronder die prys vir beste kinematografie by South by South West.

Kortflieks

Vanjaar se kortflieks, wat deel vorm van die projek om jong rolprentmakers se talent te slyp, sluit rolprente in ’n verskeidenheid genres in wat uiteenlopende temas op ʼn verfrissende wyse aanpak.

In ’n paar van die kortflieks op vanjaar se Silwerskermfees-program bevind karakters hulself op die verkeerde tyd op die verkeerde plek – altyd ’n goeie resep vir ’n sielkundige riller met ’n kinkel in die kabel.

In Baber is dié donker plek ’n makabere barbierswinkel op die Kaapse Vlakte, waar die eienaar en sy dogter van plan is om meer as net ’n klant se hare te laat waai. Irshaad Ally van Suidooster-faam, wat die rol van die klant vertolk, is ook te sien in Verstikking – dié keer as ’n skatryk sakeman wat ná ’n rooftog in ’n ondergrondse parkeerterrein op ’n eienaardige manier wraak neem.

In Aan/Af beland ’n doodgewone ou in die woonstel van sy bejaarde Duitse buurvrou waar alles beslis nie pluis is nie.

Ongewone aksiehelde is op ongewone missies in twee van die kortflieks en vir die eerste keer spog die fees met ’n post-apokaliptiese wetenskapsfiksie-kortflieks in Afri-Kaaps. Moorddadige masjiene maak jag op die laaste oorblywende mense in die Kaap in die grensverskuiwende My beskermer. Die ander aksiefliek is Nagvoël, wat gaan oor ’n superheld wat tikverslaafdes les laat opsê in die hoop om lid van die Suid-Afrikaanse Superheldliga te word.

Gesinsverhoudings – veral dié tussen ouers en hul kinders – word op ’n vars, uiteenlopende manier benader in Bennie Bingo, Bittersoet en Sporadies Nomadies. Ons praat hier van ʼn verlore seun wie se vreemde transformasie en gepaardgaande selfopgelegde stilswye in die familie se jaarlikse tradisie – ʼn bingo-kampioenskap – lelik beduiwel word in ʼn komedie-drama; ʼn oupa met alzheimersiekte wat by ʼn Kersete waar die ma reeds ʼn probleem het met haar seun se gay-romanse, skielik iets oor sy eie liefdeslewe onthou wat niemand weet nie; en ʼn sukkelende rocker-muso pa wie se vervreemde matriekdogter noodgedwonge by hom aansluit op ʼn road trip.

Dan word swangerskap uit nuwe hoeke belig in Katvis en Skyn. In Katvis neem ʼn paartjie ʼn ongewone besluit wanneer die biologiese klok te vinnig begin tik en in Skyn word ʼn sukkelende kelnerin onkant gevang word met ʼn broodjie in die oond ná ʼn dronk aandjie en ʼn vreemdeling in haar bed.

Maar die liefde kan enige plek toeslaan – byvoorbeeld in ’n hangkas in ʼn polisieman se huis, soos in Twintig tone in ʼn hangkas, of tussen twee eeue oue vampiere op die Kaapse Vlakte. Dít gebeur in Net ons. In Die Horries is daar geheime agente met die uitsluitlike missie om jou die horries te gee ná ’n nag se gefuif. Maar wat gebeur as ’n Horrie gevoelens ontwikkel vir ’n Horrie-kollega?

Vrywater speel af in ’n heel ander fantasie-ruimte. ’n Kolonie seewateraanbidders met eiesoortige rituele hoop op die vervulling van ’n langverwagte profesie. Maar dit berus alles op die optrede van ’n rebelse uitverkorene wat dalk eerder haar eie hart gaan volg.

In skrille kontras tot dié flieks word maatskaplike kwessies realisties getakel in flieks soos Bergie, Die groensone en Leemtes en leegheid. In Bergie word ʼn wetstoepassingsbeampte wat haweloses moet verwyder, gekonfronteer met die lyding van ander.

Die groensone handel oor ’n seun en sy bejaarde pa wat gedurende die inperking saam in ’n woonstel vasgekeer is. In Leemtes en leegheid worstel ’n weduwee in haar sewentigs met die dood van haar man.

Die volledige program vir die tiende Silwerskermfees is beskikbaar op die fees se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.