Hollywood: Handskoene af tussen Depp en Heard; kletsrymer gearresteer

Links: Johnny Depp. (Foto: Eric Gaillard/Pool/AFP)
Regs: Amber Heard. (Foto: Daniel Leal-Olivias/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

So verloop Johnny Depp en Amber Heard se hofsage

Die hofsaak tussen Johnny Depp en Amber Heard het op 11 April vanjaar afgeskop. Indien die hofsaak bekend klink, is dit omdat ʼn soortgelyke hofsaak in 2020 in Londen, Engeland, van stapel gestuur is.

Tydens hierdie hofsaak het Depp hom uitgespreek teen die feit dat die koerant The Sun hom as “vroueslaner” bestempel het. Depp het egter die saak in November 2020 verloor.

Daar is beslis dat Depp bewys het dat die publisering van hierdie stellings sy reputasie skade berokken het, maar dat die koerant nie verantwoording daarvoor hoef te doen nie omdat dit wesenlik waar is. Dit kom nadat nie bewys kon word dat Heard se uitlatings oor Depp onwaar was nie.

Die akteurspaar het mekaar egter weer getakel; dié keer in Fairfax, Virginia in die VSA.

Talle getuies, ook Depp self, het reeds hul kant van die storie vertel.

Een van die hoogtepunte was die bespreking oor Depp se verlore vingers. Dit kom na ʼn insident wat in 2015 in Australië plaasgevind het waar Heard glo  ʼn Vodka-bottel na Depp geslinger tydens ʼn woordewisseling. Die bottel het een van Depp se vingerpunte afgesny.

Camilla Casquez, ʼn lid van Depp se regspan, het die jurie voorberei op “dramatiese uitlatings” wat deur Heard deur die loop van die hofsaak gemaak gaan word. Sy het ook gewaarsku dat die stories egter met ʼn knippie sout geneem moet word.

Sy het dit ook duidelik gemaak dat Depp se “kleurvolle taalgebruik” en drankgewoontes nie beteken dat hy sy vrou mishandel het nie.

Daar is ʼn string bewerings deur Heard se regspan oor Depp se dwelm- en drankmisbruik gemaak.

Hulle het dit ook bekend gemaak dat Heard tydens hul verhouding altyd met grimering in haar handsak rondgeloop het om die bloukolle wat Depp na bewering veroorsaak het, te verbloem.

Depp se sussie, Christi Dembrowski, vriend Isaax Baruch, hul huweliksberader, Laurel Anderson, en Depp se private sekuriteitswag, Sean Bett, het onder andere reeds die getuienisbank ingeneem.

James Franco, Elon Musk en Paul Bettany gaan ook later as getuies optree.

Anderson het tydens haar getuienis verduidelik dat die verhouding wedersydse mishandeling ingesluit het.

Jason Momoa (Foto: Robyn Beck/AFP)

‘Aquaman’-ster nou ook in nuwe ‘Minecraft’-fliek te sien

Jason Momoa is eersdaags in ʼn splinternuwe rolprent gebaseer op die speletjie “Minecraft” te siene.

Die ster is in die laaste snikke van sy onderhandelinge met Warner Bros. Studios oor sy verskyning in die rolprent.

Die spel het in 2011 op die rakke verskyn en het sedertdien wêreldwyd gewild geword. Om en by 100 miljoen mense het die speletjie binne die eerste paar jaar na die bekendstelling daarvan afgelaai, gekoop en gespeel.

Warner Bros. Studio werk al vir die afgelope paar jaar aan die ontwikkeling van ʼn Minecraft-rolprent, en die Napoleon Dynamite-skepper, Jared Hess, sal in die regisseurstoel van die nuwe rolprent sit.

Vervaardigers sluit Mary Parent en Roy Lee in, en Jill Messick sal postuum erken word vir haar aandeel in die ontwikkeling van die rolprent voor haar afsterwe in 2018.

Robert Morse (Foto: Alberto E. Rodriguez/Getty Images/AFP)

Robert Morse oorlede op die ouderdom van 90

Mad Men-ster en Tony-toekenningwenner Robert Morse is op Woensdag 20 April op die ouderdom van 90 oorlede.

Sy vriend Larry Karaszewski het die nuus op sy Twitter-blad gedeel.

“My goeie vriend Bobby Morse is oorlede op die ouderdom van 90. ʼn Massiewe talent en mooi gees,” het die woorde gelui wat Karaszewski geplaas het.

https://twitter.com/Karaszewski/status/1517042473695989764?ref_src=twsrc%5Egoogle%7Ctwcamp%5Eserp%7Ctwgr%5Etweet

Moderne gehore sal hom herken as Mad Men se Bertram Cooper. Dié reeks wat van 2007 tot 2015 geduur het, het gehandel oor ʼn verskeidenheid van kleurvolle karakters in die 1950’s, 1960’s en 1970’s se advertensiewêreld in New York.

Morse was as jong man ʼn soldaat in die oorlog tussen Amerika en Korea. Hy het hierna verhoog toe gekeer.

In die 1950’s het hy ʼn klein teaterrol losgeslaan. Nadat ʼn agent hom hoor opwarm het, het die pad na kommersiële sukses oop voor hom gelê.

In 1955 het hy vir die eerste keer op Broadway verskyn, ʼn loopbaan op die planke wat sy lewe lank sou duur. Hy het hope Tony-toekennings vir sy optredes in verskeie produksies ontvang.

Hy het hier en daar op die groot skerm verskyn, maar sy loopbaan was in die klein skerm en die verhoog geanker.

Die rede van sy afsterwe is nog nie bekend nie.

A$AP Rocky en Rihanna (Foto: Mike Coppola/ Getty Images/AFP)

Rihanna se kêrel by lughawe in hegtenis geneem

Die kletsrymer Rakim Mayers, beter bekend as A$AP Rocky, is by die Los Angeles Internasionale Lughawe in Amerika in hegtenis geneem in verband met ʼn skietvoorval in November 2021.

Die 33-jarige is ook die kêrel van sanger Rihanna, wat tans ver swanger is met sy kind.

Die paartjie het pas van ʼn vakansie in Barbados af teruggekeer toe hy in hegtenis geneem is.

Die Los Angeles-polisiediens het ook ʼn lasbrief om Rocky se huis te deursoek.

Hy is om 12:42 in die namiddag amptelik toegesluit, en borgtog het $550 000 (sowat R8 429 855,50) beloop.

Hy is drie ure daarna op borgtog vrygelaat en sal op 17 Augustus in die hof verskyn.

Rocky is ʼn verdagte in ʼn skietvoorval wat op 6 November verlede jaar naby die Vista Del Mar en Selma Lane in Los Angeles plaasgevind het.

Bronne: The Hollywood Reporter, Vanity Fair, NBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.