Hollywood hang weer uit by Italiaanse rolprentfees

Die Suid-Koreaanse regisseur Bong Joon-ho. (Foto: Miguel Madina/AFP)

Die Venesiese rolprentfees keer Woensdag terug na die kollig met ʼn internasionale lys van rolprente en die room van Hollywood sal teenwoordig wees.

Die wêreld se oudste rolprentfees sal vanjaar poog om die glans te herwin wat verlede jaar weens die Covid-19-pandemie verlore gegaan het.

Met streng Covid-19-maatreëls in plek, sal die La Mostra, soos die fees losweg in Italië bekend staan, poog om te bewys dat dit die onmisbare wegspringblok vir die Oscars is, met ʼn eerstehandse voorskou van internasionale rolprente.

Alberto Barbera, direkteur van die Venesiese rolprentfees, het aan AFP gesê dit blyk dat die pandemie rolprentmakers se kreatiwiteit gestimuleer het en dat ʼn besonderse aantal inskrywings van goeie gehalte vanjaar deel van die fees uitmaak.

“Dis asof die moeilike omstandighede die regisseurs gestimuleer het,” het Barbera Dinsdag voor die opening gesê.

“Talle van die regisseurs het vanjaar hulle beste werk gelewer. Dit beteken dat vanjaar een van ons beste jare nóg kan wees.”

Sterre is terug

Kirsten Dunst. (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

ʼn Paneel wat gelei word deur Parasite-regisseur Bong Joon-ho, sal een van 21 rolprente in die hoofkompetisie vereer met die gesogte Golden Lion-toekenning tydens die afsluitingseremonie op 11 September.

Nomadland, wat verskeie Oscars ingeoes het, waaronder een vir beste rolprent, was verlede jaar ook die wenner op die Venesiese rolprentfees. Regisseur Chloe Zhao en die aktrise Frances McDormand kon egter nie verlede jaar die verrigtinge bywoon nie.

Vanjaar lyk dinge anders, het Barbera gesê, met meer Hollywood-talent, toeskouers en internasionale mediahuise wat die fees gaan bywoon.

Sterre soos Kristen Stewart, wat die hoofrol vertolk in Pablo Larrain se Diana-fliek, Spencer, asook Benedict Cumberbatch, Penelope Cruz en Antonio Banderas, sal vanjaar by die rolprentfees gesig wys.

Die fees skop Woensdagaand af met Madres Paralelas (Parallel Mothers), die jongste rolprent deur Spaanse fliekmaker Pedro Almodovar, met Cruz as een van twee vroue uit verskillende generasies en agtergronde in ʼn kraamsaal.

ʼn Golden Lion-toekenning vir lewensbydrae sal aan Italië se Oscar-bekroonde regisseur, Roberto Benigni (Life is Beautiful) toegeken word.

Die lokettreffers Dune en The Last Duel, met Matt Damon en Ben Affleck as skrywers en in die hoofrolle, sal ook op die fees te sien wees.

Netflix, wat voorheen sukses behaal het op die fees met Roma en Marriage Story, staan vanjaar stewig agter vanjaar se twee inskrywings, The Power of a dog deur Jane Compion en The Hand of God deur Paolo Sorrentino.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.