Hollywood-hartebreker gaan rol van ‘Boksburg Bomber’ vertolk

Liam Hemsworth. Foto: Twitter.

Dit is amptelik, die Australiese akteur Liam Hemsworth gaan die rol van Gerrie Coetzee (65) in ’n rolprent oor dié legendariese Suid-Afrikaanse bokser vertolk.

Coetzee het op een ongelooflike aand in September 1983 as ’n onbekende bokser die uitklophou teen Michael Dokes in Ohio geplant. Sodoende het hy die eerste bokser uit Afrika geword om met die swaargewig-wêreldtitel weg te stap.

In ’n onderhoud met Jacaranda FM se Rian van Heerden het Coetzee bevestig dat Hemsworth die hoofrol in “Gerrie” sal vertolk.

Die Oscar-bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise, Charlize Theron, is oorweeg vir die rol van Coetzee se vrou (Rina). Sy het glo egter $15 miljoen gevra.

Volgens Coetzee gaan daar in Augustus met die vervaardiging van die rolprent begin word, maar die vrystelling en die daaropvolgende vertonings sal van die wêreldwye Covid-19-pandemie afhang.

“Ek sal daarvan hou as die fliek eindig waar ek my titel wen en dan na Suid-Afrika terugkeer. Katinka Heyns het die draaiboek gelees en in trane uitgebars; sy het gesê dis van die beste draaiboeke ooit,” het Coetzee gesê.

Gerrie Coetzee. Argieffoto.

“Ons navorsing het getoon dat Coetzee gewild was in Amerika en dit is weer eens bevestig toe hy in 2017 tydens die Hollywood and African Prestigious Awards in Los Angeles vereer is,” het David Hartquist, ’n Amerikaanse rolprentvervaardiger, gesê.

“Gerrie se unieke prestasie was dat hy Afrika se eerste swaargewig-wêreldkampioen was. Dit vind ongetwyfeld aanklank by gehore in Amerika en hy is beslis ’n herkenbare figuur hier.”

Coetzee was ook een van Nelson Mandela se gunstelingboksers.

Gedurende sy tyd op Robbeneiland kon die voormalige Suid-Afrikaanse staatspresident, wat self ’n amateurbokser in sy jonger dae was, soms na uitsendings van Coetzee se gevegte luister. Ná sy vrylating het Coetzee Mandela by die Carlton-hotel in Johannesburg ontmoet.

Op sy beurt was Hemsworth al in flieks soos The Hunger Games, Expendables en Independence Day te siene. Die 30-jarige Aussie was vir ʼn kort rukkie met Miley Cyrus getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jean ·

Liam is ‘n goeie akteur maar hier kom ‘n swak sa engelse aksent soos altyd.

Piet Snot ·

Kallie is so rof, hy gaan op 67 sy 30-jarige self speel in die fliek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.