Video: Hollywood in my Huis stel lokprent vry

Christia Visser en Edwin van der Walt

Christia Visser en Edwin van der Walt is te sien in die nuwe Afrikaanse rolprent, Hollywood in my Huis. Foto: Verskaf.

Die bekroonde fliek Hollywood in my Huis het ’n lusmaker-lokprent vrygestel. Hierdie romantiese komedie het reeds op 31 Augustus 2014 by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai aandag getrek en met drie toekennings weggestap: a) Kennerskeuse, b) Gehoorgunsteling en c) Gehoorgunstelingaktrise (Christia Visser).

Hollywood in my Huis vertel die storie van ’n doodgewone matriekmeisie, Jana van Tonder (Christia Visser), en haar ouers, Beatrice en Tos van Tonder (Nicola Hanekom en Louw Venter), asook Frikkie (Edwin van der Walt), haar beste vriend, en sy ouma wat aan die verkeerde kant van die spoor woon.

Dit is 2004 en haar matriekafskeid is om die draai. Wanneer sy op televisie sien hoe Charlize Theron die Oscar wen, besluit sy daar en dan om haar matriekafskeid in haar eie “Hollywood Red Carpet”-glansgeleentheid te omskep.

Sy is heimlik verlief op Brandon (Viljé Martiz) – die skool se hartbreker en tenniskampioen – en is vasbeslote om hom te vra om saam met haar matriekafskeid toe te gaan, selfs al het hy pas met die skool se gewildste meisie, Angelique (Leandie du Randt), uitgemaak. Jana ontsien geen moeite nie en kom nie eens agter dat haar beste vriend, Frikkie, sy gevoelens vir haar probeer wys nie …

Die regisseur, Corné van Rooyen, het nege jaar geneem om dit in ʼn vollengte-rolprent te omskep. Hy het dit oorspronklik as student as ʼn kortprentprojek aan die AFDA-rolprentskool gedoen. Van Rooyen sê baie van die inspirasie vir die fliek is uit sy eie kinderjare in Silverton, Pretoria, geput: “Dit is eintlik ʼn hoogs persoonlike verhaal.”

Die rolinkleding het byna twee en ʼn half jaar geduur. Oor Christia Visser wat ook tans te sien is in Ballade vir ʼn Enkeling as Lena Aucamp jr. sê Van Rooyen: “Ek het geweet ek gaan nie maklik ʼn beter Jana as sy kry nie.”

Dit het net so lank geduur om die ongekunstelde Frikkie te vind. Van Rooyen het oral gesoek – by universiteite, skole, agentskappe en selfs op Facebook – tot hy vir Edwin van der Walt (ook nou te sien in Ballade vir ʼn Enkeling as Jacques Rynhard jr.) in ’n kortfilm raakgesien het.

Ander sterre in die fliek sluit Elana Afrika-Bredenkamp, Lida Botha en Marga van Rooy in.

Hollywood in my Huis tref die plaaslike silwerdoek op 26 Junie.

Hier is die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gwen ·

Net nie nog ’n romantiese komedie nie. Die Afrikaanse rolprentmark bereik vinnig sy versadigingspunt vir sulke tipe rolprente. Die rolprentmakers sal meer oorspronklik moet wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.