Hollywood: Komediant byna van verhoog af gemoker; Elon Musk besig met nog ’n projek

Dave Chappelle. (Foto: Paul Morigi/Getty Images/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Dave Chappelle tydens vertoning aangeval

Chappelle het na aan die einde van sy komedievertoning by die Hollywood Bowl in Los Angeles gekom, toe ’n man skielik op die verhoog spring en hom plattrek.

Die aanvaller het ’n fopgeweer gedra en die gedoente het die gehoor na asem laat snak.

Chappelle (43) het ongedeerd van die voorval weggestap, sy aanvaller egter nie.

Die man wat Chappelle te lyf gegaan het, het die fopgeweer agterweë gelaat. Hoewel die geweer slegs ’n replika was, was daar steeds ’n lem aan die binnekant versteek.

So is die aanvaller deur die Los Angeles-polisie as 23-jarige Isaiah Lee geïdentifiseer. Dié moes les opsê toe Chappelle se lyfwagte hom beetkry, en hy is ná die voorval in die hospitaal opgeneem.

Daar is ’n klag van aanranding met ’n dodelike wapen teen Lee ingedien, met borgtog wat $30 000 (ongeveer R480 000) beloop.

Elon Musk kry eie dokumentêre reeks

Die BBC het pas bekend gemaak dat daar ’n dokumentêre reeks oor die multi-miljardêr, Elon Musk, gemaak gaan word.

Elon Musk (Foto: Ryan Lash / TED Conferences, LLC / AFP)

Die reeks, voorlopig getiteld The Elon Musk Show, sal uit drie episodes bestaan en onderhoude met familielede van Musk insluit.

Die reeks sal beeldmateriaal van Musk se tyd in Silicon Valley insluit wat lede van die publiek nog nooit vantevore gesien het nie.

Musk is tans heerlik aan’t baljaar op koerante en tydskrifte se voorblaaie, met sy aankope van Twitter vir ’n beduidende $44 miljard. Die aankope sal later vanjaar gefinaliseer word.

The Elon Musk Show is nie die enigste dokumentêr wat oor die multi-miljardêr handel nie.

Return to Space, ’n dokumentêr oor SpaceX, waarvan Musk die stigter is, is in April vanjaar op Netflix bekend gestel.

Meg Ryan terug op die silwerskerm

Meg Ryan (links) en Billy Crystal woon die 2019 TCM Classic-rolprentfees se openingsgala van When Harry Met Sally by wat Donderdag in die TCL- Chinese teater in Los Angeles aangebied is. (Foto: Richard Shotwell, AP)

Meg Ryan keer eersdaags terug na haar wortels wat diep in romantiese komedies geplant is.

Aanhangers ken haar as Sally van When Harry met Sally, Kathleen van You’ve got Mail en as Annie van Sleepless in Seattle, om net ’n paar van haar trefferrolprente te noem.

Ryan sal binnekort in die rolprent What Happens Later te siene wees. Nie net vertolk sy een van die hoofrolle teenoor akteur David Duchovny nie, sy sit ook in die regisseurstoel.

Die rolprent, wat handel oor nostalgiese liefde, sal in 2023 op skerms te siene wees.

Amber Heard skuif agter getuiebank in

Die hofsage tussen die voormalige egpaar, Johnny Depp en Amber Heard, het vandeesweek voortgeduur.

Heard het vir die eerste keer sedert die hofsaak begin het self getuienis begin gee.

Links: Johnny Depp. (Foto: Eric Gaillard/Pool/AFP)
Regs: Amber Heard. (Foto: Daniel Leal-Olivias/AFP)

Tydens haar langdurige getuienis was daar talle kere waartydens die Aquaman-aktrise ’n traan of twee moes afvee.

’n Groot deel van haar getuienis het gehandel oor Depp se drank- en dwelmgewoontes. Daar is talle foto’s van Depp wat sy bewussyn weens hewige drank- en dwelmgebruik verloor.

Heard het verduidelik dat sy die foto’s van hom geneem het omdat sy gevoel het asof niemand haar glo oor sy gewoontes nie.

Sy het gehuil tydens haar oorvertelling van die dag wat die paar verloof geraak het in 2013; een van die groot kwelpunte was die feit dat Depp die verlowing sonder ’n ring aangepak het.

Sy het verder getuig dat Depp tydens hul verlowingspartytjie ook onder die invloed van dwelms was.

Sy het ook getuig dat Depp haar ná die 2014-Met-gala so erg aangerand het dat sy vermoed het dat haar neus gebreek was.

Bronne: The New York Times, E! News, The Wrap, Sky News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Ronel

Amber Heard sage – enigste trane wat gevloei het was myne, so hard het ek gelag