Plaaslike akteurs gaan binnekort saam met Hollywood-sterre op die Suid-Afrikaanse silwerdoek te sien wees.
Henk Pretorius, skrywer en regisseur wat bekendheid verwerf het met rolprente soos Fanie Fourie’s Lobola en die Bakgat-reeks, se nuwe projek Leading Lady word later vanjaar uitgereik.
In dié rolprent speel plaaslike sterre soos Brümilda van Rensburg en Bok van Blerk teenoor die internasionale akteurs Katie McGrath (onlangs te sien in die reeks Dracula) en Gil Bellows (The Shawshank Redemption).
Leading Lady vertel die storie van ʼn jong Britse aktrise wat aanklop by ʼn boer in Brandfort in die Vrystaat om haar te help met voorbereiding vir ʼn rol in ‘n Hollywood-rolprent as ʼn Afrikaanse oorlogsheldin. In ruil daarvoor kan sy die jaarlikse konsert, wat op die boer se plaas gehou word, reël.
Leading Lady word na verwagting einde November uitgereik.