Hopkins-kragtoer in demensie-fliek besorg hom dalk ʼn Oscar

Sir Anthony Hopkins as Anthony in ‘The Father’. (Foto: Filmfinity (Pty) Ltd)

Byna drie dekades nadat die riller The Silence of the Lambs sy debuut by die loket gemaak het, laat sir Anthony Hopkins as die kannibaal Hannibal Lecter fliekvlooie steeds hoendervel uitslaan met sy bekende rasperstem-aanhaling, “Hello, Clarice”.

Hopkins, ʼn Wallieser, is in 1992 met ʼn Oscar-toekenning vir beste akteur in ʼn hoofrol vir sy rol as dié ikoniese karakter teenoor Jodie Foster vereer.

Hopkins het intussen verskeie Oscar-benoemings ontvang vir rolprente soos The Remains of the Day (1994), Nixon (1996), Amistad (1998) en The Two Popes (2020), maar kenners is oortuig dat die 82-jarige akteur vroeg in 2021 sy tweede goue beeldjie vir sy rol in The Father sal inoes.

Volgens IndieWire.com wou Hopkins in 1999 die gordyn oor sy akteursloopbaan laat sak nadat hy die uitmergelende titelrol in Julie Taymor se Titus gespeel het. Sy loopbaan het egter van krag tot krag gegaan en hy verskyn eersdaags in die Florian Zeller-rolprent The Father.

Sir Anthony Hopkins as Hannibal Lecter in ‘The Silence of the Lambs’. (Foto: IMDb/Twentieth Century Fox)

Die fliek begin as ʼn doodgewone drama en vertel die verhaal van ʼn middeljarige dogter, Anne, wat haar geduld verloor met haar pa – ʼn stoute, onafhanklike ou man wat tred met die werklikheid verloor en weier dat ʼn versorger na hom omsien.

Die dogter moet trek en moet daarom iemand kry om na haar pa om te sien. Hy ly egter aan die beginstadium van demensie en probeer sin maak van sy veranderende omstandighede terwyl hy in sy geliefdes, verstand en die werklikheid begin twyfel.

Hopkins vertolk die rol van Anthony, die verwarde pa, teenoor Olivia Colman, die Engelse aktrise wat self verlede jaar met ʼn Oscar-beeldjie vir beste aktrise vereer is vir haar rol in The Favourite.

Zeller, die bekroonde Franse skrywer, het die oorspronklike toneelstuk Le Père, waarop die fliek geskoei is, geskryf. Dié stuk was ʼn treffer op die planke van Parys tot West End op Broadway in New York en is uiteindelik ook vir die silwerdoek verwerk deur Zeller en Christopher Hampton.

Sir Anthony Hopkins met sy Oscar-toekenning vir ‘The Silence of the Lambs’ in 1992. (Foto: IMDb/Gary Lewis/mptvimages.com)

Die verhaal word doelbewus vertel deur die oë van Anthony, wie se lewe ʼn bron van nimmereindigende verwarring geword het, met die karakters en plekke wat voortdurend verander en daartoe lei dat die kyker so verward soos Anthony voel.

Dit is surrealisties, maar spreek boekdele oor ʼn lewe met demensie. “Ek wou nie die storie van ʼn buiteperspektief vertel nie, want dit is al soveel keer gedoen. Ek wou die verhaal van binne af probeer vertel, asof die gehoor in die hoofkarakter se kop is,” sê Zeller.

Hopkins se vertolking van die knorrige bejaarde man wat baklei teen die liggies in sy kop wat stadig verdof, word beskryf as ʼn kragtoer. Terwyl Zeller die regie met sensitiwiteit benader en fokus op noukeurige storievertelling, word die boodskap wat hy wil oordra, ondersteun deur uitsonderlike toneelspel.

Hopkins en Colman beeld die demensie-geteisterde man en sy dogter meesterlik uit. Colman se gesigsuitdrukkings weerspieël al die emosies wat deur haar karakter gaan, terwyl Hopkins daarin slaag om die vrees, frustrasie en woede van ʼn man wat sy greep op die werklikheid verloor, perfek vas te vang.

Soos wat hy die kloof tussen onafhanklike volwassene en bang kind skets, voeg sy ryk en emosionele toneelspel elemente van weerloosheid en afgryse by die rolprent.

Hopkins en Colman word verder ondersteun deur ʼn uitstaande groep akteurs, onder wie Mark Gatiss, Imogen Poots, Rufus Sewell en Olivia Williams.

Sir Anthony Hopkins in ‘The Father’. (Foto: Filmfinity (Pty) Ltd)

Volgens Entertainment Weekly het Hopkins beskeie gereageer op die gerugte van ʼn Oscar-toekenning vir sy genuanseerde en emosioneel geskakeerde toneelspel in The Father.

“Ek behoort dit nie te sê nie, want ek weet dit klink vreeslik verwaand, maar dit was so ʼn maklike rol om te vertolk.”

Hopkins het bygevoeg die fliek se teaterstruktuur en sterk draaiboek het hom op ʼn duidelike pad gelei, terwyl die lewering van emosionele kompleksiteit natuurlik kom.

“Ek maak seker dat dit maklik is – ek storm nie rond in wanhoop nie. Dit is nie my styl om intens op die stel te wees nie,” het hy gesê.

The Father begin na verwagting op 15 Januarie in fliekteaters landwyd draai.

Bronne: Variety.com, Entertainment Weekly, IndieWire.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.