Ikone in SA rolprentbedryf vereer by Buitebioskoop

IMG_4533

Sallas de Jager en Susan Lombaard

Die Suid-Afrikaanse rolprentmakers Regardt van den Bergh en Sallas de Jager is die afgelope Saterdag tydens Maroela Media en attooh! se Buitebioskoop in Pretoria vereer vir hul bydrae tot die Afrikaanse rolprentbedryf.

Van den Bergh, vereer as veteraan in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf, en De Jager, as ontluikende rolprentreus in dié bedryf, se toekennings is tydens ʼn gespreksgeleentheid met Leon van Nierop oorhandig. Dié geleentheid het plaasgevind tussen die onderskeie fliekvertonings.

Van Nierop het ook dié geleentheid benut om oor hoogtepunte uit dié twee fliekmakers se loopbaan te gesels.

“Ek was totaal uit die veld geslaan. Dit was regtig ontsaglik onverwags,” het Van den Bergh later gesê. “Ek het juis toe ek daar aankom vir iemand gesê die Buitebioskoop voel byna soos die destydse Nasionale Toneelorganisasie wat getoer het en dan trek almal saam en gesels oor alles en dies meer. Die Buitebioskoop is só ʼn gawe projek. Om toe nog vereer te word tydens die geleentheid was ʼn absolute eer.”

Van Nierop het tydens die oorhandiging daarop gewys dat baie van Van den Bergh se sukses toegeskryf kan word aan sy kennis, ervaring en die respek wat hy vir die bedryf het. “Ek het die eerste keer met Regardt kennis gemaak toe hy nog skaars ʼn asempie was in Die tweede slaapkamer in 1962. Ek was vaagweg daarvan bewus dat hy die seun was van die legendariese Gert en Dulcie van den Bergh. Dit was egter sy dramatiese spel in Die kandidaat wat my die eerste keer beïndruk het.

IMG_4548

Regardt van den Bergh ontvang sy toekenning.

“Regardt het op rolprentstelle grootgeword. Die rolprentbedryf was van vroeg af deel van wie hy was en steeds is. Daar het hy besef dat ʼn goeie draaiboek die grondslag van enige rolprent is, en dat deeglike voorbereiding, en ʼn stewige pre-produksiefase, maar veral die respek vir die medium, die deurslaggewende faktore vir ʼn goeie fliek was. Dit is veral sy karaktarisering in Plekkie in die son wat gewys het hoe uitstekende akteur hy regtig is,” het Van Nierop gesê.

De Jager het gesê dit is ʼn voorreg om ʼn geruime tyd reeds in die rolprentbedryf te kan werk.

Hy meen dié toekenning is ʼn erkenning vir die harde werk wat mens inploeg. “Dit is ʼn groot verrassing en absolute voorreg om die toekenning te aanvaar,” het hy gesê.

“Ek is bevoorreg om van jongs af omring te wees met mense wat my laat glo het alles is moontlik. Ek is baie bevoorreg om stories te vertel in ʼn taal waarvoor ek baie lief is. Dis ʼn voorreg dat ʼn mens braaf genoeg was om te ondersoek wat ons dalk verkeerd gedoen het, reg gedoen het en dat mens leer daaruit en stories kan vertel daaroor.

“De Jager is ʼn gerespekteerde en geliefde rolprentmaker,” het Van Nierop gesê. “Noem jy Sallas se naam, dan praat mense altyd met waardering en respek oor hom. Maar ook die feit dat hy so toeganklik is, dat hy nie ʼn ego het nie en kundig is, en bowenal menslik is; eienskappe wat hom goed te staan gekom het met die plek waar Afrikaanse rolprente tans is.

Susan Lombaard, Maroela Media se uitvoerende hoof, meen dit is belangrik om rolprentmakers te vereer vir hul ervaringsbydrae en vir die voetspore wat hulle in die bedryf trap. “Daar is redelik min erkenning vir dit wat tans besig is om in die rolprentbedryf te gebeur, veral vir die ou hande. Dié toekennings is vir alles wat hulle vir die bedryf doen om dit te bevorder. Hulle is as’t ware ons ysters van die bedryf,” het sy gesê.

Die toekennings is vanjaar se vereerdes is weer ontwerp deur die Kaapse beeldhouer Milandi Coetzer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.