Indie Karoo-filmfees: Só lyk die wenners

Die teater The Showroom se bestuurder, Marelize Vorster (middel) en die akteurs Johan en Lida Botha.

Die teater The Showroom se bestuurder, Marelize Vorster (middel) en die akteurs Johan en Lida Botha. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan

Die tweede Indie Karoo-filmfees (IKFF) van 29 Junie tot 3 Julie op Prins Albert in die Groot-Karoo was ’n reusesukses en die organiseerders beplan reeds IKFF 2017.

So sê Johnny Breedt, ’n gerekende naam in die Suid-Afrikaanse filmbedryf wat die fees verlede jaar hier begin het.

Hy is al langer as tien jaar ’n inwoner van die dorp en is bekend as filmstelontwerper, regisseur en filmmaker. Hy is ook mede-eienaar van The Showroom Theatre wat byna vier jaar gelede hier geopen het en het twee jaar gelede ’n Safta (South African Film and Theatre Award) vir die stelontwerp van Mandela: Long Walk to Freedom gewen.

Die oud-Suid-Afrikaner Gavin Hood in The Showroom. (Marlene Malan)

Die oud-Suid-Afrikaner Gavin Hood in The Showroom. Foto: Marlene Malan

Meer as 70 vollengteflieks, dokumentêre en kortfilms (animasie en eksperimenteel) is tydens die fees in The Showroom en drie ander lokale op die dorp vertoon. Die wenners in elke kategorie was: Twee Grade van Moord (beste vollengtefliek), Boere op die Aardsdrempel (beste dokumentêr), I made a film you will never see (beste kortfliek), met spesiale vermelding van Deànré Reiners vir sy toneelspel in Verskietende Ster en Mossie “Mignon” van Wyk, en ’n toekenning aan die aktrise Lida Botha vir haar dekades lange bydrae tot toneel en film in Suid-Afrika.

Die regisseur Koos Roets en sy vriendin en vennoot, Eunice Visser.

Die regisseur Koos Roets en sy vriendin en vennoot, Eunice Visser. Foto: Marlene Malan

Maar dit was die uitspraak van Barry Strick, vervaardiger van Twee Grade van Moord, wat ook die gehoorkeuse van die groot aanbod flieks was, wat my laat regop sit het. Op ’n vraag uit die gehoor waarom dié film – met sy tersaaklike temas van genadedood, moord, die gay-kwessie, gesinsverhoudings en liefdesverhoudings – nie in Engels verfilm is nie, het Strick gesê dis omdat Afrikaanse flieks kommersieel baie beter vaar as Suid-Afrikaanse Engelse flieks. “Engels kry dit nét nie so goed reg soos Afrikaans nie.”

Die tweede rede is omdat die hoofrolle deur Afrikaanse topakteurs vertolk word – Marius Weyers, Sandra Prinsloo en Shaleen Surtie-Richards. “Hulle is outentiek Afrikaans.” Gehalte van spel en bemarkbaarheid was dus die redes waarom Engels nie ’n oorweging vir die span was nie – hoogstens Engelse onderskrifte.

Gavin Hood saam met die aanbieder Nambitha Ben-Mazwi (links) en regisseur Dumisa Lengwati.

Gavin Hood saam met die aanbieder Nambitha Ben-Mazwi (links) en regisseur Dumisa Lengwati. Foto: Marlene Malan

Verskeie bekendes uit die Suid-Afrikaanse filmbedryf het die vyf dae lange fees bygewoon, en Prins Albert – so ’n uur se ry vanaf Oudtshoorn – se hotel en meer as 40 gastehuise was vol bespreek.

Johnny Breedt, wat die fees begin het. (Verskaf)

Johnny Breedt, wat die fees begin het. Foto: Verskaf

Nog ’n hoogtepunt was dat die oud-Suid-Afrikaner Gavin Hood, wat 13 jaar gelede naam gemaak het met sy fliek Tsotsi, spesiaal na Prins Albert vir die fees gekom het. Hood, wat deesdae in Los Angeles woon, het vertel dit was vir hom ’n lang, leersame pad vanaf Tsotsi, gegrond op die roman deur Athol Fugard, tot Eye in the Sky, wat handel oor terrorisme en die rol van die Britse en Amerikaanse veiligheidsdiens om dit te bekamp. Tsotsi het 13 jaar gelede die Oscar gewen as beste buitelandse fliek, terwyl Eye – wat in Maart bekend gestel is – reeds goeie resensies ontvang. Die fliek is verlede jaar in en om Kaapstad en Beaufort-Wes geskiet.

Die regisseur Jozua Malherbe was by die IKFF.

Die regisseur Jozua Malherbe was by die IKFF. Foto: Marlene Malan

“Hollywood is tegelyk uitdagend en meedoënloos. Dis ’n omgewing wat aan niks minder nie as die beste gewoond is.”

Volgens Lida Botha is die herlewing van filmvertonings op die platteland ’n positiewe nuwe neiging. “Die dae van rondreisende toneelgeselskappe is verby. So ook die dae van bioskope op die platteland. Die Suid-Afrikaanse filmwese kan vir niks beters vra as so ’n fees in die Karoo nie. Dis ’n groot inspuiting vir die bedryf.”

Volgens Breedt het die drukmedia én sosiale media deeglik kennis geneem van die IKFF. “Net op sosiale media was daar meer as 11 000 besoeke op die IKFF se Facebook-blad en webblad. Ek skryf die sukses van die fees toe aan ’n uitstekende tegniese en bemarkingspan, aan borge en aan die steun van die gemeenskap van Prins Albert.

Die vervaardiger van Boere op die Aardsdrempel, Richard Finn Gregory

Die vervaardiger van Boere op die Aardsdrempel, Richard Finn Gregory. Foto: Marlene Malan

“Die woord Indie verwys na independent, omdat net die werk van onafhanklike filmmakers – en nie groot filmmaatskappye nie – vertoon word. Nadat die Apollo-filmfees in Victoria-Wes ’n paar jaar gelede gesneuwel het, wou ek ’n soortgelyke fees in die Karoo laat herlewe. Die IKFF is ’n droom wat waar geword het. Daar is geen rede waarom dit nie die grootste filmfees in die land kan word nie.”

Breedt is tans in Puerto Rico waar hy saam met die akteur Keanu Reeves aan ’n wetenskapsfiksiefliek met die titel Replicas werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.